Mediteer uit die Woord

Is die lewende Woord van God vir jou werklik lewend of is dit maar net nog ‘n boek wat stof opgaar? Vir my raak die Woord slegs lewendig as jy dit deel van jouself maak. Hoekom wil jy dit deel van jouself maak? Die “Woord” self, gee vir jou die antwoorde.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). God is in jou, God is Liefde en God is die Woord self. God verlang daarna dat jy Sy Woord in jou hart sal skrywe.

God inspireer jou verder met: “Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). Hoe lewe ʼn mens van elke woord van God? Hoe maak jy dit deel van jouself?

Dan die kersie op die koek: “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Joh. 2:5). Hierdie versie maak ʼn mens sommer opgewonde en honger vir die Woord van God. Hoe dan anders, dit is mos die Ware Liefde waarna ons smag! En dit is mos die sleutel tot selfliefde en liefde vir ander! Boonop, voorsien God self, deur die versie, vir ons die inspirasie om in Sy Woord in te duik!

Dit bring my terug by die vraag: Hoe maak ek die Woord deel van myself? Die bestudering van die Bybel om God te leer ken, is beslis ʼn goeie begin, maar meditasie neem dit net ʼn stappie verder. Dit is ‘n wonderlike manier om die Woord van God in jou hart te skryf en weliswaar, ware liefde binne jou te kweek.

In die verlede het ek meditasie vereenselwig met mense wat met gekruisde bene sit en dieselfde woorde oor en oor neurie. Dit is egter glad nie dieselfde as Bybelse meditasie nie. Volgens die woordeboek is die woord mediteer, sinoniem met die woorde peins en oordink. Jy kan dit sien in onder meer Ps. 143:5 “ek peins oor al u dade” en Ps. 119:148 “om u woord te oordink”. In die meeste Engelse vertalings, soos onder andere die “King James” en “American Standard”, word dit as “meditate” vertaal. Meditasie kom dus daarop neer dat jy diep wil nadink oor skrifgedeeltes, sodat jy dit deel van jou lewe kan maak.

God het ons elkeen uniek gemaak en daarom wil ek nie voorskriftelik wees oor hoe jy moet mediteer nie. Laat die Heilige Gees jou lei daarmee. Ek wil net graag met jou deel oor hoe ek mediteer. Persoonlik mediteer ek net as ek werklik alleen is en daar niks is wat my aandag kan aftrek nie. Dit is vir my baie lekker om in die natuur te mediteer, maar as dit nie moontlik is nie, dan sommer in enige vertrek waar ek alleen kan wees. Wanneer ek alleen met God is, raak meditasie vir my ʼn sielsveranderende ervaring.

Een van die skrifgedeeltes waaroor ek die graagste mediteer is Psalm 23. In die Psalm vertel Dawid wat sy liefdevolle Vader vir hom beteken. Ek en jy is ook kinders van dieselfde liefdevolle Vader. Dit wat Hy vir Dawid gedoen het, doen Hy ook vir my en jou. Ons besef dit net nie altyd nie. Ons sal die realiteit van die gedeelte al hoe meer besef as ons dit deur middel van meditasie in ons harte skryf.

Wanneer ek oor Psalm 23 mediteer, sien ek myself in die skoene van Dawid. Ek self praat met God en oordink alles wat ek sê. Op so ʼn manier skryf ek die gedeelte in my hart en maak ek dit deel van myself. Natuurlik kan dit nie anders as om my verhouding met God, te verbeter nie!

Om die Psalm my eie gesprek met God te maak, verander ek die “Hy” na “U” en die “die” na “U”.
Die kern van die Psalm word glad nie verander nie. Hieronder staan die oorspronklike Psalm 23, gevolg deur die aangepaste Psalm 23.

Psalm 23 (1953 – vertaling)
1. “ʼn Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
2. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen”.
3. “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil”.
4. “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
5. “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
6. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”

Psalm 23 (aangepas)

1. “ʼn Psalm van Dawid. Here, U is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
2. “U laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei U my heen”.
3. “U verkwik my siel; U lei my in die spore van geregtigheid, om U Naam ontwil”.
4. “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
5. “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
6. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in U huis bly HERE in lengte van dae.”

Ek wil graag deur elke versie van die aangepaste Psalm 23 werk om ʼn aanduiding te gee van hoe ek dit oordink.

Ps. 23:1 “ʼn Psalm van Dawid. HERE, U is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
Ek dink nie in hierdie versie daaraan as net “ʼn Psalm van Dawid” nie, maar ook as “ʼn Psalm van myself”. Psalm 23 word daardeur vir my ʼn persoonlike gesprek met God. “U is my Herder” laat my dink aan die kwaliteite van ʼn herder; Sy voorsiening, Sy beskerming, Sy oneindige liefde. Dit laat my ook daaraan dink dat God my so lief het, dat Hy binne my is en ek in Hom. Dat Hy wie Liefde self is, binne my heers. Dat ek nooit sal ontbreek aan die liefde van God nie en dat alles ten goede sal meewerk vir my omdat, ek Hom liefhet.

Ps. 23:2 “U laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei U my heen”.
Met hierdie versie begin ek in meer detail vir God sê wat Hy vir my as Herder en Heerser doen. Ek sien myself in die groen weivelde waarheen God my lei; hier smul ek aan God se liefde, hoop en vreugde. Ek sien ʼn pragtige waterstroompie waarheen God my lei en ek ervaar vrede soos wat net God self dit kan gee. Ek loof en prys God vir die wonder van Sy liefde, hoop, vreugde en vrede.

Ps. 23:3 “U verkwik my siel; U lei my in die spore van geregtigheid, om U Naam ontwil”.
Dit is hier waar ek ervaar hoe God my siel verkwik. Hy neem al die negatiewe gedagtes en ervaringe en breek dit af en vervang dit met nog tonne van sy liefde! Hier dink ek daaraan dat God my verander deur my denke te vernuwe sodat ek volgens Sy wil sal lewe (vgl. Rom. 12:2). Daarom kan ek nie anders as om in Sy spore van geregtigheid gelei te word nie.

Ps. 23:4 “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
Hierdie versie laat my altyd dink aan enige verliese, terugslae, krisisse of probleme wat oor my pad gekom het. Ek dink weereens aan die versie: Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Dan kyk ek terug in my lewe en besef hoe die liefdevolle Vader dinge ten goede laat meewerk. Ek besef dat ek niks hoef te vrees nie, want God is in my en ek in Hom. Ek dink daaraan dat ek nooit alleen is nie, dat Sy liefde altyd in my is en dat Hy my vertroos. Ek dank Hom en prys Hom.

Ps. 23:5 “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
Ek dink daaraan dat my teëstanders (die bose) net kan toekyk hoe God sy liefde in my laat groei. Ek dink daaraan dat God my salf met liefde, hoop, geloof en ander gawes soos Hy wil. Sy seëninge van liefde, hoop, geloof en ander gawes loop deur my oor na ander mense.

Ps. 23:6 “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in U huis bly HERE, in lengte van dae”
Ek dink daaraan dat met God binne my en om my, kan dit nie anders as om met my goed te gaan nie. Selfs in slegte tye, want dit is die tye wanneer God sy liefde in my laat groei. Ek dink daaraan dat, met God binne my en ek in Hom, ek al klaar begin het om Sy huis te bewoon en dat dit net beter kan word.

Net so kan jy oor enige gedeelte van die Woord wat tot jou spreek mediteer. Ek hou ook daarvan om oor Ps. 100 en Rom. 12:2 te mediteer. Meditasie kan vir jou in jou soeke na die heerskappy van God in jou, van groot waarde wees.

Deel met ander: