Elke sekonde met Ware Liefde

Spesiale tye met God is absoluut hemels, maar die feit is dat ons die grootste gedeelte van elke dag met ander dinge besig is. Alhoewel ander dinge baie tyd in ons lewens neem, bly dit ’n realiteit dat God elke sekonde van die dag in jou en om jou is. Ja, hy beleef elke sekonde van jou lewe! Daarom is daar geen rede waarom ons nie ook deur die dag met Hom kan gesels nie.

Om te gesels met God beteken nie noodwendig dat jou oë altyd toe moet wees nie. As jou omstandighede dit toelaat, is dit wel goed om jou oë toe te maak, want dan kan jy jou heeltemal afsluit van die sigbare dinge in die wêreld. Sou dit nie lekker gewees het as ons soms ook ons ore kon toemaak nie?

Die realiteit is dat jy gedurende ʼn normale dag selde die kans sal kry om jou oë toe te maak of om hardop met God te praat of om aan God te skryf. Dit is oor die algemeen egter altyd moontlik om met God in jou gedagtes te gesels. In jou gedagtewêreld raak jou gesprek met God privaat en persoonlik.

Ek gesels al ’n geruime tyd met God gedurende die dag en kan werklik sê dat dit nie altyd ʼn eenrigting gesprek is nie. Ek praat met God oor enigiets wat in my dag gebeur. Die onderwerpe kan strek vanaf klein dingetjies soos die lekker toebroodjie wat ek eet tot ernstiger dinge soos om ’n oplossing vir ’n probleem te vind.

God praat ook met my deur my gedagtes. Daarom probeer ek om altyd na my gedagtes te luister. Die besef dat God met my gesels, is vir my veral duidelik in die manier waarop ek probleme en uitdagings hanteer. Indien ek nie die antwoorde vir ʼn probleem of uitdaging het nie, gesels ek met God daaroor en ’n paar sekondes later kry ek die antwoord in die vorm van ʼn gedagte. Die gedagte is nie altyd ’n direkte antwoord nie – soms is dit ’n metode om by die antwoord uit te kom en andersins kan dit net ’n gevoel van vrede wees om eerder geduldig te wag vir die oplossing.

Hoe dit ook al sy, een ding is seker, hoe meer jy met God deur die dag gesels, hoe groter is die kans dat jy Hom sal betrek in die soeke na oplossings vir probleme en uitdagings. Wie wil dan nou ook op jou eie na oplossings soek as jou liefdevolle Vader jou daarin kan lei.

Indien dit vir jou moeilik is om met God te gesels deur die dag dan is dit juis die eerste ding waaroor jy met God in jou gedagtes wil gesels. Vra die Heilige Gees om jou te lei in jou geselskap met God. Onthou Hy ken jou en jou omstandighede beter as wat jy dit self ken. Jy kan sommer terwyl jy op pad is na jou werk/skool al begin gesels. Die belangrikste is net om te begin en jy sal verbaas wees oor hoe vinnig dinge kan vorder.

Gesels ook met vriende en ander mense oor God. Onthou elkeen van ons is in God en daarom is ons ook geestelik aanmekaar verbind en kan ons dus ook deur met mekaar te gesels, God beter leer ken. Hoe ook al jy God beter wil leer ken, onthou net om altyd vir sy leiding te vra. Hy sal jou beslis help om Hom beter te leer ken.

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

seventeen − sixteen =