Hoe groei jy nader aan Ware Liefde? bl. 2

Oor die algemeen word groot ondernemings se visie in groot letters uitgestal op die mure binne hulle geboue. Die doel onder andere is om personeel te herinner aan die visie van die onderneming. Indien jy ’n visie oor ’n liefdesverhouding met God het, hoe herinner jy jouself daaraan? In die eerste plek glo ek dat as jy die begeerte van ’n dieper verhouding met God het, sal jy dit in jou hart skryf. Verder kan jy dit ook op jou kamermuur plak of jy kan dit dalk op die binneblad van jou dagboek skryf. Dink jy nie dat die binnekant van jou beursie dalk ook ’n goeie plek sal wees nie? My visie is om my liefdesverhouding met God so te laat groei dat ek elke sekonde van die dag bewus sal wees van Sy teenwoordigheid in my sodat ek in alles wat ek dink, doen of besluit sy wil sal uitlewe!

Voordat ek met die meer praktiese aspekte begin, wil ek net ’n kort samevatting gee van die belangrike aspekte wat ek alreeds aangeraak het. Ware liefde begin met ’n begeerte in jou hart wat God daar plaas deur middel van gedagtes. Tweedens is dit belangrik om oor die tyd wat jy aan jou verhouding met God wil spandeer te dink. Natuurlik heeldag en dan ook spesiale tye. Laastens het ek gepraat oor die belangrikheid daarvan om ’n visie te hê oor waarheen jou verhouding met God op pad is.

Elkeen van ons is uniek en daarom wil ek geensins voorskriftelik wees oor die besluite wat ons rakende tye en visie moet neem nie. Wees net versigtig vir te veel van ’n roetine. Ons as mense kan dikwels so vasgevang word deur roetines dat ons die tyd met God as net nog iets beskou wat op ’n bepaalde tyd afgehandel moet word. As ons hierin vasgevang is, maak ons dit vir ons self moeilik om God se stem op enige ander tyd te hoor en is ons dalk so op ons horlosies gefokus dat ons God glad nie hoor nie. Ek waag dit om te sê dat jy in so ’n situasie baie stadig in jou liefde vir God, jouself of ander sal groei.

Deel met ander:

Een kommentaar op “Hoe groei jy nader aan Ware Liefde? bl. 2”

  1. Ware liefde
    Ware liefde begin by God wat deur Sy Gees Sy liefde in ons harte uistort vgl. Rom.5:5 Verder is ware liefde nie net gevoelens nie, maar veral dade van liefde, in 1 Kor.13 word dit duidelik wat liefde is: Liefde is geduldig, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, hou nie boek van die kwaad nie ens. Doen jy dit, groei liefde in jou. Liefde is DADE in 1 Kor 13, maar volgens Gal.5:50 ‘n vrug (Enkelvoud) en kan as volg geskryf word. Liefde (Dubbelpunt): vreugde, vrede, geduld ens. Lees gerus Gal.5:20 Liefde beeld ook die karakter van Jesus uit, dit is soos Hy is en soos Hy opgetree het en altyd sal wees. Ons behoort ook so te wees, dit is God se skeppingsdoel met ons.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

two × 5 =