Hoe groei jy nader aan Ware Liefde?

In die hedendaagse lewe het tyd baie kosbaar geword. Dit het nodig geraak om jou dag haarfyn te beplan. In die besluite gaan dit nie net meer oor wanneer jy wat wil doen nie, maar beslis ook oor hoe jy dit gaan doen. Dieselfde geld beslis ook vir jou verhouding met God, jouself en ander.

Vir my is jou verhouding met God tweeledig, aan die een kant is daar die spesiale tye wat jy alleen met God spandeer. Aan die ander kant is God binne jou en jy in Hom en julle is dus 24 uur ’n dag in mekaar se teenwoordigheid. Ek dink dit is nogal baie spesiaal of hoe?

Persoonlik gesels ek heeldag deur met God oor verskillende goed wat kan wissel vanaf mense tot werk of sommer net oor gholf of selfs oor die lekker roomys wat ek eet. Dit is veral lekker om met Hom te kan gesels as daar iets is wat my pla of as ek myself midde in een of ander krisis bevind.

Dan is daar die spesiale tye wanneer ek werklik God hierbinne in my ervaar en oor diep dinge gesels. Dit is in hierdie tye wat my liefde vir God groei en dan natuurlik ook my liefde vir myself en vir ander. Gedurende hierdie tye is ek so na aan God dat niks anders werklik saak maak nie. Sal dit nie lekker wees om elke minuut van die dag so na aan God te kan leef nie! Dink jouself in so ’n situasie in! Niks sal jou kan ontstel nie, niks sal jou bekommer nie, geen besluit sal vir jou te moeilik wees nie en jy sal jouself gate uit geniet. Jy sal sommer net kan lief wees vir God, jouself en ander! Jy sal alles in die lewe met liefde hanteer, selfs die moeilike tye. Ek wil waag om te sê dat daar nie ’n enkele mens hier op aarde is wat nie in sy diepste wese streef na die wonder van ’n liefdesverhouding met God nie. Ek begeer net al hoe meer van God self, of anders gestel: Ware Liefde, en jy?

Het jy ‘n visie oor jou verhouding met God of te wel, Ware Liefde? Anders gestel, hoe sien jy jou verhouding met God oor ’n paar jaar? Kyk ’n bietjie terug na die laaste 5 jaar in jou verhouding met God. Wat sien jy? Is dit nog dieselfde of het dit sterker geword? Sou ’n visie moontlik ’n verskil in jou groei kon gemaak het? Ek dink tog dat ’n visie, in die gejaagde lewe van vandag, ’n verskil kan maak. Die belangrikheid van ’n visie sal egter afneem namate jou liefdesverhouding met God groei.

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

five × two =