Hoe seker is jy oor Ware Liefde?

Ek wil graag die basiese dinge wat ek van ware liefde geleer het met jou deel. Dit is eintlik so eenvoudig. Jy het sekerlik al dikwels daarvan gelees of daarvan gehoor, maar dalk nog nooit die diepte daarvan besef nie. Dit is soos om die top van ‘n ysberg te sien, maar nie die groot massa ys wat tot diep onder die water strek nie.

Ysberge laat my altyd dink aan die verhaal van die Titanic. Dit is ‘n fliek wat my diep geraak het, maar ook een wat ek as gevolg van die hartverskeurende verhaal, nie weer wil sien nie. As ek reg onthou, is daar tog ‘n stukkie ware liefde in die verhaal. Mmm… dalk tog die rede vir die fliek se gewildheid. Ek dink nie die ou dame wat die storie van die Titanic vertel, het besluit om lief te hê nie. Hoe dink jy? Was sy dalk net verlief? Indien jy nog nie die fliek gesien het nie, maak ʼn plan.

Dit bring my terug by die onsekerhede oor liefde. Dink jy nie die redes vir ons onsekerheid kan dalk vir ons antwoorde gee oor ware liefde nie? As jy nie onseker was nie, sou dit tog baie maklik gewees het om ‘n besluit te kon neem. Dink jou in ‘n wêreld in waarin almal seker is van wat hulle wil hê. Jy sou nie meer ‘n besluit hoef te geneem het nie, jy sou sommer net geweet het. Jy sou sommer net kon lief hê. Mmm… nog beter, jy sou onvoorwaardelik kon lief hê. Is dit werklik moontlik? Hoe dink jy?

Wat veroorsaak die onsekerheid dan? Kom ons begin by die samestelling van liefde. Daar is tog twee persone nodig of hoe? Miskien dalk net een? Lê die probleem van die onsekerheid by jou, of dalk by die ander persoon? Dit kan tog enige van die twee opsies insluit, behalwe as beide onseker is. Feit is, jy kan binne jouself weet wat jy wil hê, maar is dit ook wat die ander persoon wil hê? Hoe kan jy weet of die ander persoon seker is? Dit is glad nie ʼn maklike vraag nie en dit kan selfs ‘n mens wat wel seker was, onseker maak.

Die slim mense sê altyd dat jy nie jou tyd moet mors op iets wat jy nie kan verander nie, maar eerder moet fokus op iets wat jy wel kan verander. Fokus dus eerder op die belangrikste! Ware liefde vir jouself! Ja, indien jy dit nie geweet het nie, ware liefde begin beslis by jouself. Dink jy nie dat as jy ware liefde binne jouself beter verstaan, dit dalk makliker sal wees om ander waarlik lief te hê nie? Dit mag dalk selfs makliker word om ware liefde in ‘n ander persoon te kan waarneem. Klink dit logies, of is dit net wensdenkery?

Een van die belangrikste vrae wat jy ooit in jou lewe gevra sal word, is: “Het jy jouself onvoorwaardelik waarlik lief?” Mens, ek sê vir jou, die is ‘n taai een. Dink eers baie goed daaroor na voordat jy sommer net “ja” sê. As jy onmiddellik kan ja sê sonder enige twyfel, dan wil ek net baie graag vir jou sê, pragtig. As jy kan ja sê sonder om ‘n besluit te moet neem, dan wil ek weereens vir jou sê, pragtig. Indien jy nie weet nie of dalk nee sê, glo my dit is nie die einde van die wêreld nie, maar die begin van ‘n wonderlike ontdekkingsreis.

Deel met ander:

Een kommentaar op “Hoe seker is jy oor Ware Liefde?”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

8 + nineteen =