Hoe werk Ware Liefde?

Die bron van ware liefde is natuurlik God binne jou! Ek is beslis nie daartoe in staat om die werkinge van God in elkeen van ons unieke lewens te kan verstaan of te verduidelik nie. In breë glo ek dat God omstandighede en gebeurtenisse, wat goed of sleg kan wees, gebruik om ons bewus te maak van die begeerte na ware liefde binne in ons. God kan natuurlik ook radikaal wees, soos met die verblinding van Paulus (Hand. 9:1-20). Hoe dit ook al sy, God wil die gedagte binne in jou plaas om jou bewus te maak van jou begeerte na Ware Liefde.

Hoekom gebruik God dan ‘n gedagte? Alles wat jy wil doen of besluit, begin met ’n gedagte. Selfs al sou ’n leeu op jou afstorm dink jy eers voordat jy reageer. Party mense sou sê dat hulle net instinktief sal hardloop, maar wat veroorsaak die instink, dit moet tog ’n gedagte wees? Jou oë vertel vir jou brein dat ’n leeu op jou afstorm en jou onmiddellike gedagte is, hardloop. Dit is dan ook net natuurlik dat jou Skepper wat jou beter ken as enigiemand anders ook gedagtes sal gebruik om by jou die begeerte na Ware Liefde aan te wakker.

Hoe werk die gedagte ding dan? Was jy al ooit verlief? Dink ’n bietjie terug aan hoe jy verlief geraak het. Was dit die mooi voorkoms van ’n pragtige jong dame of heer wat jou aandag getrek het? Was dit die spontaniteit of humorsin? Was dit dalk die sensitiwiteit vir ander mense of was dit dalk sommer net die lekker gesels? Hoe ook al, dit moes met ’n eerste gedagte begin het, of hoe? Die eerste gedagte en dalk nog ’n paar ander het gelei tot die begeerte in jou hart om die persoon beter te leer ken. Jou begeerte het daartoe gelei dat jy gepoog het om die ander persoon te leer ken deur meer tyd saam te spandeer en dinge saam te doen. Indien jy jouself waarlik liefhet, sal jy sommer gou weet of jy die begeerte ‘n stappie verder wil neem. Jy sal sommer net weet wat jy wil hê.

God, of anders gestel Ware Liefde, plaas die gedagte in jou hart wat lei na ’n begeerte om Hom beter te leer ken. Teen die tyd weet ons al dat dit sal lei na ware liefde vir God, ware liefde vir jouself en ware liefde vir ander. Net soos in die geval met mense sal jy ook meer tyd met God wil spandeer om Hom te leer ken. Hoekom sê ek nie eerder, moet spandeer nie? Doodeenvoudig, ek glo dat goeie verhoudings gebou word, omdat mense dit graag wil doen. Sodra jy voel dat jy ’n verhouding met enigiemand moet bou, gaan jy dit heel waarskynlik teensinnig doen en gaan dit of stadig groei of stagneer. Aan die anderkant kan ’n, “ek moet”, ook tog mettertyd soos mense mekaar leer ken na ’n, “ek wil”, verander. So indien jy op hierdie stadium voel dat jy tyd met God moet spandeer, doen dit gerus. Ek glo dat ’n verhouding met Ware Liefde self, nie anders kan as om jou, “ek moet”, na ’n, “ek wil”, te verander nie.

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

five × two =