Oorsprong van Ware Liefde

Die fondament, behalwe vir logika, vir ware liefde kom uit die boek wat die meeste verkope ter wêreld het. Dit is natuurlik die Bybel. Weereens is ek geensins ’n kenner van die Bybel nie. Ek dink dit vat jare se intense studie en beslis ook kennis van Grieks en Hebreeus voordat jy ’n kenner van die Bybel kan word. Selfs dan glo ek dat dit op die einde van die dag net God se Gees is wat vir jou baie meer in die Bybel kan openbaar as dit wat voor die hand liggend is.

Die versie wat vir my alles bevestig, sal nogal baie goed doen in ‘n Top 10 vir versies. Dit sê doodeenvoudig dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Mark. 12:31, Jak 2:8). Vir my is dit heel duidelik dat as jy nie jouself waarlik kan lief hê nie, jy ook nie jou naaste waarlik sal kan liefhê nie? Wat nou daarvan as jy ander meer liefhet as jouself? Klink vir my heel moontlik, maar raak die ander persoon dan nie dalk meer die rede vir jou bestaan in stede van jouself en ware liefde nie? Dan kan jy aan die anderkant jouself ook meer lief hê as jou naaste. Dit skreeu vir my teen ware liefde! Die vraag kan gevra word: Hoe lief is jy werklik, indien jy altyd jou eie belange voor die van ’n ander stel? Miskien ’n bietjie oordrewe, maar Paula van Sewende Laan, is beslis ’n voorbeeld van ’n persoon wat haar eie belange altyd eerste stel.

Goed, nou waar begin ’n mens as jy jouself nie waarlik lief het nie? Ek dink ’n ondersoek na die oorsprong van liefde sal vir ons die antwoord gee. Liefde moet tog van iewers af kom! Hoekom voel mense soms dat daar ’n leemte binne hulle is? Kan ware liefde dalk die leemte vul? Indien jy dit nie alreeds weet nie, glo ek dat die volgende vir jou ’n wonderlike ontdekking gaan wees. Die volgende 2 versies gee eintlik die geheim van ’n liefdeslewe hier in die sigbare en ook daarna in die onsigbare. 1 Joh. 4:7 sê: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God ”. 1 Joh. 4:16 sê dit net op ’n ander manier: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom”. Meer duidelik kan ek dit nie stel nie. God is liefde en die liefde is uit God.

Deel met ander:

2 kommentare op “Oorsprong van Ware Liefde”

  1. Liefde is die grootste
    Liefde is die grootste energie wat gebind is aan gevoel en ervaring. Als is geskape uit liefde. Ek het God se liefde ervaar en dit is hemels. Jy moet dit soek om dit te kan ontvang. Dit is so helder soos die helderste lig. Dit is so sag soos n wolk. Liefde is tasbaar, sigbaar skyn van binne ma buite. Dit is so lewendig soos n vlam.

  2. Liefde. Ware liefde. Soos jy
    Liefde. Ware liefde. Soos jy sê, kom dit net van een bron, en dit is God. want God IS liefde. Sonder Hom is dit selfsugtig en word ons eie belange eerste gestel. Baie dankie

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

3 × 5 =