Soek jy Ware Liefde? bl. 2

Soek jy eerder na die koninkryk van God of soek jy na die heerskappy van God? Ek kies loshande die heerskappy van God, omdat Hy dan binne in my heers. God is mos binne my en ek in Hom. Mense, as God eers binne jou heers, is jy in ’n ander wêreld, want dan raak dit al hoe makliker om jouself waarlik lief te hê. Dit kan mos nie anders nie, want God of anders gestel, Liefde, heers dan in jou!

Goed, maar hoe soek ek dan na die heerskappy van God? Indien jy die voorgaande vraag aan jouself stel, dan vermoed ek dat jy alreeds ’n begeerte in jou hart het na die heerskappy van God in jou lewe. Jy soek dus na ware liefde en geluk in jou lewe.

Wat dan indien jy nie die begeerte het nie? Dan wil ek net graag vir jou sê dat jy net nog nie daarvan bewus is nie. Diep binne in jou is dit wel daar! Ons het ’n natuurlike honger na ware liefde. Die honger het jy al gehad toe jy nog doeke gedra het. Waarmee kan jy die honger stil, indien nie ware liefde nie? Is dit status, prestasies, baie geld, mooi motors, mooi huise, mense, jou lewensmaat of iets anders wat ek nie genoem het nie? Die vraag wat jy jouself kan afvra, is: Hoe lank kan die goed of mense my gelukkig maak? Is dit nie maar net tydelik van aard nie? Soek jy nie telkens, maar weer na iets anders om jou gelukkig te maak nie? Raak die voortdurende gesoek na geluk nie naderhand ’n sinnelose vermorsing van tyd nie? Dink jy nie dat daar baie meer potensiaal daarin is om eerder na die heerskappy van Ware Liefde binne jou te soek nie? Ek kan jou verseker dat jy nie spyt sal wees nie.

Dit bring my by die tweede deel van die versie: Luk 12:31- Maar soek die heerskappy van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Wat is al hierdie dinge waarvan Jesus hier praat? In vers 27 maak Jesus ’n vergelyking wat ’n mens stom slaan: Luk 12:27- Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. Jesus sê dus dat jy jou nie moet bekommer oor of jy al die dinge wat nou vir jou belangrik is gaan kry nie, want God weet wat jy nodig het en jy sal dit kry.

In my woorde, soek dus eers na die heerskappy van Ware Liefde of te wel God in jouself en al die dinge wat jy nodig het, sal vir jou gegee word. Die belangrikste dinge sluit in ware liefde vir God, jouself, jou naaste en daarmee saam die geluk waarna jy so soek. Wat meer wil ’n mens hê?

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

16 + 12 =