Spesiale Tye met Ware Liefde bl. 2

Gebed

Kan jy nog onthou hoe jy die eerste keer met God gesels het? Ek noem dit gesels, want dit is werklik waarop dit neerkom. Baie van ons, insluitende myself, het leer bid deur rympies op te sê.

Praat jy met jou beste vriende deur rympies op te sê? Ek glo nie, net so wil God ook nie net rympies hoor nie, maar werklik hoor wat jy dink, hoe jy voel, wat jou pla, wat vir jou lekker is, wat jou seer maak, wat jou kwaad maak, wat jou laat lag, hoe lief jy hom het, ensovoorts. Wat ook al, God wil dit hoor!

God luister graag na jou, maar wil ook soms met jou gesels. Indien jy egter die hele tyd besig is met jou eie gedagtes, al dan nou in die verlede of die toekoms, maak jy dit vir jouself baie moeilik om hom te hoor. Glo my, dit is die moeite werd om stil te raak nadat jy gebid het, nie te dink nie, en slegs te luister na God. Hy sal in jou gedagtes, of hoe ook al Hy wil, met jou praat. En nee, Hy praat nie altyd nie, maar dit is die moeite werd om, net ingeval Hy dalk wil, te luister. Indien dit vir jou voel asof jy nooit iets hoor nie, hou net aan, dit sal verander.

Is jy dalk een van die mense wat nie met God wil gesels nie? Hy luister dan nie na jou nie en Hy gee nie vir jou antwoorde nie. Ek ken daai gevoel van moedeloosheid wat op jou toesak as jy nie antwoorde kry nie. Dit het my ook met tye beet gehad, maar sedert ek die waarheid van God se ware liefde in my en om my besef het, het dinge verander. Ek kry steeds nie altyd antwoorde of persoonlike belewenisse nie, maar ek weet dat God luister.

Dit is wonderlik hoe ouerskap ‘n mens help om God beter te verstaan. In hierdie geval is dit die besef dat ’n mens as ouer ook nie altyd vir jou kind al die antwoorde wil gee nie. Soms is dit nodig vir jou kind om te groei deur dinge self te ervaar. Is dit nie dalk wat God in ons lewens wil doen nie?

Joernaal

Ek het al ’n paar keer in my lewe met ’n joernaal begin, net om dit weer na ’n paar maande ’n stadige dood te laat sterf. ’n Joernaal was vir my ’n boek waarin ek al my wense neergeskrywe het en God bedank het vir alles wat ek gekry het. Dit kon net sowel ’n geskrewe gebed gewees het. Sedert ek bewus geword het van die liefde van God binne my en om my, het ’n joernaal vir my ’n heel ander betekenis gekry.

Dit het ’n boek geraak waarin ek alles wat op my hart is met God deel. Dit gaan veral oor my verhouding met God en ek skrywe daarin oor al my belewenisse van Hom. Ek vra ook allerhande vrae oor die dinge omtrent Hom wat ek nog nie verstaan nie en kry dan dikwels antwoorde as God deur my gedagtes met my praat.

Om in my joernaal te skryf is vir my werklik ʼn belewenis van God. Ek glo dat solank as dit vir my moontlik is, sal ek in my joernaal skrywe. Sal jy nie ook in ’n joernaal wil skryf nie, veral as jy in ag neem dat jy God, of anders gestel Ware Liefde, daardeur beter sal leer ken?

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

19 + 17 =