Spesiale Tye met Ware Liefde bl. 4

Meditasie

Is die lewende Woord van God vir jou werklik lewend of is dit maar net nog ’n boek wat stof opgaar? Vir my raak die Woord slegs lewendig as jy dit deel van jouself maak. Hoekom wil jy dit deel van jouself maak? Die lewende Woord self, gee vir jou die antwoorde.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). God is in jou, God is Liefde en God is die Woord self. God verlang daarna dat jy Sy Woord in jou hart sal skrywe.

God inspireer jou verder met: “Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). Hoe lewe ʼn mens van elke woord van God? Hoe maak jy dit deel van jouself?

Dan die kersie op die koek: “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Joh. 2:5). Hierdie versie maak ʼn mens sommer opgewonde en honger vir die Woord van God. Hoe dan anders, dit is mos die Ware Liefde waarna ons smag! En dit is mos die sleutel tot selfliefde en liefde vir ander! Boonop voorsien God self, deur die versie, vir ons die inspirasie om in Sy Woord in te duik!

Dit bring my terug by die vraag: Hoe maak ek die Woord deel van myself? Die bestudering van die Bybel om God te leer ken is beslis ʼn goeie begin, maar meditasie neem dit net ʼn stappie verder. Dit is ‘n wonderlike manier om die Woord van God in jou hart te skryf en weliswaar, ware liefde binne jou te kweek.

In die verlede het ek meditasie vereenselwig met mense wat met gekruisde bene sit en dieselfde woorde oor en oor neurie. Dit is egter glad nie dieselfde as Bybelse meditasie nie. Volgens die woordeboek is die woord mediteer, sinoniem met die woorde peins en oordink. Jy kan dit sien in onder meer Ps. 143:5 “ek peins oor al u dade” en Ps. 119:148 “om u woord te oordink”. In die meeste Engelse vertalings, soos onder andere die “King James” en “American Standard”, word dit as “meditate” vertaal. Meditasie kom dus daarop neer dat jy diep wil nadink oor skrifgedeeltes sodat jy dit deel van jou lewe kan maak.

God het ons elkeen uniek gemaak en daarom wil ek nie voorskriftelik wees oor hoe jy moet mediteer nie. Laat die Heilige Gees jou lei oor hoe jy dit wil doen. Ek wil net graag met jou deel oor hoe ek mediteer. Persoonlik mediteer ek net as ek werklik alleen is en daar niks is wat my aandag kan aftrek nie. Dit is vir my baie lekker om in die natuur te mediteer, maar as dit nie moontlik is nie, dan sommer in enige vertrek waar ek alleen kan wees. Wanneer ek alleen met God is, raak meditasie vir my ’n sielsveranderende ervaring.

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

seven + thirteen =