Spesiale Tye met Ware Liefde bl. 5

Een van die skrifgedeeltes waaroor ek die graagste mediteer is Psalm 23. In die Psalm vertel Dawid wat sy liefdevolle Vader vir hom beteken. Ek en jy is ook kinders van dieselfde liefdevolle Vader. Dit wat Hy vir Dawid gedoen het, doen Hy ook vir my en jou. Ons besef dit net nie altyd nie. Ons sal die realiteit van die gedeelte al hoe meer besef as ons dit deur middel van meditasie in ons harte skryf.

Wanneer ek oor Psalm 23 mediteer, sien ek myself in die skoene van Dawid. Ek self praat met God en oordink alles wat ek sê. Op so ’n manier skryf ek die gedeelte in my hart en maak ek dit deel van myself. Natuurlik kan dit nie anders as om my verhouding met God te verbeter nie!

Om die Psalm my eie gesprek met God te maak, verander ek die “Hy” na “U” en die “die” na “U”.
Die kern van die Psalm word glad nie verander nie. Hieronder staan die oorspronklike Psalm 23, gevolg deur die aangepaste Psalm 23.

Psalm 23
1. “’n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
2. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen”.
3. “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil”.
4. “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
5. “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
6. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”

Psalm 23 (aangepas)
1. “’n Psalm van Dawid. Here, U is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
2. “U laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei U my heen”.
3. “U verkwik my siel; U lei my in die spore van geregtigheid, om U Naam ontwil”.
4. “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
5. “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
6. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in U huis bly HERE in lengte van dae.”

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

1 × 5 =