Spesiale Tye met Ware Liefde bl. 6

Ek wil graag deur elke versie van die aangepaste Psalm 23 werk om ʼn aanduiding te gee van hoe ek dit oordink.

Ps. 23:1 “ʼn Psalm van Dawid. HERE, U is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
Ek dink nie in hierdie versie daaraan as net “’n Psalm van Dawid” nie, maar ook as “’n Psalm van myself”. Psalm 23 word daardeur vir my ’n persoonlike gesprek met God. “U is my Herder” laat my dink aan die kwaliteite van ’n herder – Sy voorsiening, Sy beskerming, Sy oneindige liefde. Dit laat my ook daaraan dink dat God my so lief het, dat Hy binne my is en ek in Hom. Dat Hy wie Liefde self is binne my heers. Dat ek nooit sal ontbreek aan die liefde van God nie en dat alles ten goede sal meewerk vir my omdat, ek Hom liefhet.

Ps. 23:2 “U laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei U my heen”.
Met hierdie versie begin ek in meer detail vir God sê wat Hy vir my as Herder en Heerser doen. Ek sien myself in die groen weivelde waarheen God my lei – hier smul ek aan God se liefde, hoop en vreugde. Ek sien ’n pragtige waterstroompie waarheen God my lei en ek ervaar vrede soos wat net God self dit kan gee. Ek loof en prys God vir die wonder van Sy liefde, hoop, vreugde en vrede.

Ps. 23:3 “U verkwik my siel; U lei my in die spore van geregtigheid, om U Naam ontwil”.
Dit is hier waar ek ervaar hoe God my siel verkwik. Hy neem al die negatiewe gedagtes en ervaringe en breek dit af en vervang dit met nog tonne van sy liefde! Hier dink ek daaraan dat God my verander deur my denke te vernuwe sodat ek volgens Sy wil sal lewe (vgl. Rom. 12:2). Daarom kan ek nie anders as om in spore van geregtigheid gelei te word nie.

Ps. 23:4 “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
Hierdie versie laat my altyd dink aan enige verliese, terugslae, krisisse of probleme wat oor my pad gekom het. Ek dink weereens aan die versie: Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet (Rom8: 28). Dan kyk ek terug in my lewe en besef hoe die liefdevolle Vader dinge ten goede laat meewerk. Ek besef dat ek niks hoef te vrees nie, want God is in my en ek in Hom. Ek dink daaraan dat ek nooit alleen is nie, dat Sy liefde altyd in my is en dat Hy my vertroos. Ek dank Hom en prys Hom.

Ps. 23:5 “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
Ek dink daaraan dat my teëstanders (die bose) net kan toekyk hoe God sy liefde in my laat groei. Ek dink daaraan dat God my salf met liefde, hoop, geloof en ander gawes soos Hy wil. Sy seëninge van liefde, hoop, geloof en ander gawes loop deur my oor na ander mense.

Ps. 23:6 “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in U huis bly HERE, in lengte van dae”
Ek dink daaraan dat met God binne my en om my kan dit nie anders as om met my goed te gaan nie. Ek dink daaraan dat met God binne my en ek in Hom, ek al klaar begin het om Sy huis te bewoon en dat dit net beter kan word.

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

fourteen + 13 =