Spesiale Tye met Ware Liefde

Wat doen jy in jou spesiale tyd? Persoonlik het ek nie ’n vaste resep nie. Ek doen wat ook al my hart vir my op die oomblik vertel. Ek bestudeer die Bybel, bid, skryf in my persoonlike joernaal, lofprys en aanbid, en mediteer. Met die lees van die woord, mediteer, wil sommige van julle dalk nie eers die moeite doen om verder te lees nie. Daarom wil ek sommer nou al sê dat ek praat van Bybelse meditasie soos dit waarvan Dawid in die Psalms praat.

Daar is twee dinge wat ons tyd met God spesiaal maak. Die een is kennis en die ander een is die intieme belewenisse. Die een gaan hand aan hand met die ander. Die een laat jou toe om die ander met volle vryheid te kan beleef. Die hoofbron van kennis is tog die Woord van God en die Woord word weer in die belewenisse van lofprysing en aanbidding, en meditasie toegepas. Dit alles bring jou nader aan Ware Liefde wat natuurlik daartoe lei dat jou liefde vir jouself en ander ook groei.
Bybelstudie
Is jy ook een van die mense wat die Bybel van voor tot agter lees en nie regtig iets wys raak nie? Ek was ook daar, jy lees dit net om klaar te kry en luister nie regtig na wat jy lees nie. Dit kan nogal ‘n vervelige storie raak, of hoe? Dit bring my terug by wat ek beskou as die eintlike rede om die Bybel te lees, naamlik die begeerte om God of anders gestel Ware Liefde te leer ken. Vra dus die Heilige Gees om Homself deur die Skrif aan jou te openbaar.

Ek lees graag die Bybel deur die E-Sword program te gebruik. Indien jy toegang tot die internet het, kan jy die program gratis aflaai. Boonop kan jy ‘n klomp verskillende vertalings aflaai en dan die verskillende vertalings met mekaar vergelyk. Onthou om beslis ook die “Young’s Literal Translation” af te laai. Dit gee vir jou die betekenis van woorde soos wat dit in die oorspronklike Grieks staan. Die “Interliniere Bybel: Grieks-Afrikaans Nuwe Testament” kan jou ook help met die oorspronklike Grieks. Die Bybel is beskikbaar by Christelike boekwinkels.

Die wonderlike van ‘n program soos E-Sword is dat jy met die “search” funksie vinnig versies waarna jy soek kan opspoor. ‘n Vinnige “search” in die Ou Afrikaanse vertaling vir byvoorbeeld die woord liefde het aangetoon dat dit in 161 versies voorkom. Die gevolg is dat jy die Bybel beslis op ’n ander manier kan lees as net vanaf die eerste tot die laaste bladsy.

Deel met ander:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

two × four =