Spesiale Tye met Ware Liefde

Wat doen jy in jou spesiale tyd? Persoonlik het ek nie ’n vaste resep nie. Ek doen wat ook al my hart vir my op die oomblik vertel. Ek bestudeer die Bybel, bid, skryf in my persoonlike joernaal, lofprys en aanbid, en mediteer. Met die lees van die woord, mediteer, wil sommige van julle dalk nie eers die moeite doen om verder te lees nie. Daarom wil ek sommer nou al sê dat ek praat van Bybelse meditasie soos dit waarvan Dawid in die Psalms praat.

Daar is twee dinge wat ons tyd met God spesiaal maak. Die een is kennis en die ander een is die intieme belewenisse. Die een gaan hand aan hand met die ander. Die een laat jou toe om die ander met volle vryheid te kan beleef. Die hoofbron van kennis is tog die Woord van God en die Woord word weer in die belewenisse van lofprysing en aanbidding, en meditasie toegepas. Dit alles bring jou nader aan Ware Liefde wat natuurlik daartoe lei dat jou liefde vir jouself en ander ook groei.
Bybelstudie
Is jy ook een van die mense wat die Bybel van voor tot agter lees en nie regtig iets wys raak nie? Ek was ook daar, jy lees dit net om klaar te kry en luister nie regtig na wat jy lees nie. Dit kan nogal ‘n vervelige storie raak, of hoe? Dit bring my terug by wat ek beskou as die eintlike rede om die Bybel te lees, naamlik die begeerte om God of anders gestel Ware Liefde te leer ken. Vra dus die Heilige Gees om Homself deur die Skrif aan jou te openbaar.

Ek lees graag die Bybel deur die E-Sword program te gebruik. Indien jy toegang tot die internet het, kan jy die program gratis aflaai. Boonop kan jy ‘n klomp verskillende vertalings aflaai en dan die verskillende vertalings met mekaar vergelyk. Onthou om beslis ook die “Young’s Literal Translation” af te laai. Dit gee vir jou die betekenis van woorde soos wat dit in die oorspronklike Grieks staan. Die “Interliniere Bybel: Grieks-Afrikaans Nuwe Testament” kan jou ook help met die oorspronklike Grieks. Die Bybel is beskikbaar by Christelike boekwinkels.

Die wonderlike van ‘n program soos E-Sword is dat jy met die “search” funksie vinnig versies waarna jy soek kan opspoor. ‘n Vinnige “search” in die Ou Afrikaanse vertaling vir byvoorbeeld die woord liefde het aangetoon dat dit in 161 versies voorkom. Die gevolg is dat jy die Bybel beslis op ’n ander manier kan lees as net vanaf die eerste tot die laaste bladsy.

Deel met ander:

Soek jy Ware Liefde? bl. 2

Soek jy eerder na die koninkryk van God of soek jy na die heerskappy van God? Ek kies loshande die heerskappy van God, omdat Hy dan binne in my heers. God is mos binne my en ek in Hom. Mense, as God eers binne jou heers, is jy in ’n ander wêreld, want dan raak dit al hoe makliker om jouself waarlik lief te hê. Dit kan mos nie anders nie, want God of anders gestel, Liefde, heers dan in jou!

Goed, maar hoe soek ek dan na die heerskappy van God? Indien jy die voorgaande vraag aan jouself stel, dan vermoed ek dat jy alreeds ’n begeerte in jou hart het na die heerskappy van God in jou lewe. Jy soek dus na ware liefde en geluk in jou lewe.

Wat dan indien jy nie die begeerte het nie? Dan wil ek net graag vir jou sê dat jy net nog nie daarvan bewus is nie. Diep binne in jou is dit wel daar! Ons het ’n natuurlike honger na ware liefde. Die honger het jy al gehad toe jy nog doeke gedra het. Waarmee kan jy die honger stil, indien nie ware liefde nie? Is dit status, prestasies, baie geld, mooi motors, mooi huise, mense, jou lewensmaat of iets anders wat ek nie genoem het nie? Die vraag wat jy jouself kan afvra, is: Hoe lank kan die goed of mense my gelukkig maak? Is dit nie maar net tydelik van aard nie? Soek jy nie telkens, maar weer na iets anders om jou gelukkig te maak nie? Raak die voortdurende gesoek na geluk nie naderhand ’n sinnelose vermorsing van tyd nie? Dink jy nie dat daar baie meer potensiaal daarin is om eerder na die heerskappy van Ware Liefde binne jou te soek nie? Ek kan jou verseker dat jy nie spyt sal wees nie.

Dit bring my by die tweede deel van die versie: Luk 12:31- Maar soek die heerskappy van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Wat is al hierdie dinge waarvan Jesus hier praat? In vers 27 maak Jesus ’n vergelyking wat ’n mens stom slaan: Luk 12:27- Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. Jesus sê dus dat jy jou nie moet bekommer oor of jy al die dinge wat nou vir jou belangrik is gaan kry nie, want God weet wat jy nodig het en jy sal dit kry.

In my woorde, soek dus eers na die heerskappy van Ware Liefde of te wel God in jouself en al die dinge wat jy nodig het, sal vir jou gegee word. Die belangrikste dinge sluit in ware liefde vir God, jouself, jou naaste en daarmee saam die geluk waarna jy so soek. Wat meer wil ’n mens hê?

Deel met ander:

Soek jy Ware Liefde?

Wat sou jy sê is die grootste vereiste om in enigiets waarin jy belangstel te verbeter? Ek dink dit begin beslis by ’n begeerte. Wat jy ook al wil bereik, ’n sterk begeerte sal jou inspireer om spesiale aandag daaraan te gee. Indien dit dan vir enigiets in jou lewe geld, hoekom dan nie ook vir jou verhouding met God of te wel Liefde self nie? Is jou begeerte na Ware Liefde nie sterk genoeg nie? Is die ander dinge in jou lewe werklik meer belangrik? Wat sê die Bybel hieroor?

Ek glo dat as daar ’n rekord in die “Genius Book of Records” bestaan het vir die meeste kere wat ’n spesifieke versie gesê word, dan het ’n vriend van my loshande die rekord gehou vir die volgende versie: Luk. 12:31 “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Doen jouself ’n guns en gaan lees ook die voorafgaande versies. Ek wil egter ook verwys na dié versie soos dit in die “Modern Young’s Literal Translation” staan: Luk. 12:31 “but, seek you the reign of God, and all these things shall be added to you.” Ter verduideliking, die MYLT Bybel is vertaal net soos dit in die Grieks staan en is dus ‘n meer korrekte weergawe van die oorspronklik Griekse woorde. Vandaar dat die woord “heerskappy” in plaas van “koninkryk” gebruik word.

Soos ek alreeds gesê het, ek is nie ’n kenner van die Bybel nie, maar die betekenis van die woord, heerskappy, sê net vir my soveel meer as die betekenis van die woord koninkryk. Koninkryk, is vir my iets wat verwys na ’n plek, soos byvoorbeeld die koninkryk van Engeland. Ek dink mense verwys ook graag daarna as die hemel. Die woord heerskappy sê vir my dat hier iets aan te gebeur is. Hier word geheers en dit is geensins plek gebonde nie. Wie kan dan nou ook God net op ’n spesifieke plek plaas?

Deel met ander:

Oorsprong van Ware Liefde

Die fondament, behalwe vir logika, vir ware liefde kom uit die boek wat die meeste verkope ter wêreld het. Dit is natuurlik die Bybel. Weereens is ek geensins ’n kenner van die Bybel nie. Ek dink dit vat jare se intense studie en beslis ook kennis van Grieks en Hebreeus voordat jy ’n kenner van die Bybel kan word. Selfs dan glo ek dat dit op die einde van die dag net God se Gees is wat vir jou baie meer in die Bybel kan openbaar as dit wat voor die hand liggend is.

Die versie wat vir my alles bevestig, sal nogal baie goed doen in ‘n Top 10 vir versies. Dit sê doodeenvoudig dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Mark. 12:31, Jak 2:8). Vir my is dit heel duidelik dat as jy nie jouself waarlik kan lief hê nie, jy ook nie jou naaste waarlik sal kan liefhê nie? Wat nou daarvan as jy ander meer liefhet as jouself? Klink vir my heel moontlik, maar raak die ander persoon dan nie dalk meer die rede vir jou bestaan in stede van jouself en ware liefde nie? Dan kan jy aan die anderkant jouself ook meer lief hê as jou naaste. Dit skreeu vir my teen ware liefde! Die vraag kan gevra word: Hoe lief is jy werklik, indien jy altyd jou eie belange voor die van ’n ander stel? Miskien ’n bietjie oordrewe, maar Paula van Sewende Laan, is beslis ’n voorbeeld van ’n persoon wat haar eie belange altyd eerste stel.

Goed, nou waar begin ’n mens as jy jouself nie waarlik lief het nie? Ek dink ’n ondersoek na die oorsprong van liefde sal vir ons die antwoord gee. Liefde moet tog van iewers af kom! Hoekom voel mense soms dat daar ’n leemte binne hulle is? Kan ware liefde dalk die leemte vul? Indien jy dit nie alreeds weet nie, glo ek dat die volgende vir jou ’n wonderlike ontdekking gaan wees. Die volgende 2 versies gee eintlik die geheim van ’n liefdeslewe hier in die sigbare en ook daarna in die onsigbare. 1 Joh. 4:7 sê: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God ”. 1 Joh. 4:16 sê dit net op ’n ander manier: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom”. Meer duidelik kan ek dit nie stel nie. God is liefde en die liefde is uit God.

Deel met ander: