Mediteer uit die Woord

Mediteer uit die Woord

Is die lewende Woord van God vir jou werklik lewend of is dit maar net nog ‘n boek wat stof opgaar? Vir my raak die Woord slegs lewendig as jy dit deel van jouself maak. Hoekom wil jy dit deel van jouself maak? Die “Woord” self, gee vir jou die antwoorde.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). God is in jou, God is Liefde en God is die Woord self. God verlang daarna dat jy Sy Woord in jou hart sal skrywe.

God inspireer jou verder met: “Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). Hoe lewe ʼn mens van elke woord van God? Hoe maak jy dit deel van jouself?

Dan die kersie op die koek: “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Joh. 2:5). Hierdie versie maak ʼn mens sommer opgewonde en honger vir die Woord van God. Hoe dan anders, dit is mos die Ware Liefde waarna ons smag! En dit is mos die sleutel tot selfliefde en liefde vir ander! Boonop, voorsien God self, deur die versie, vir ons die inspirasie om in Sy Woord in te duik!

Dit bring my terug by die vraag: Hoe maak ek die Woord deel van myself? Die bestudering van die Bybel om God te leer ken, is beslis ʼn goeie begin, maar meditasie neem dit net ʼn stappie verder. Dit is ‘n wonderlike manier om die Woord van God in jou hart te skryf en weliswaar, ware liefde binne jou te kweek.

In die verlede het ek meditasie vereenselwig met mense wat met gekruisde bene sit en dieselfde woorde oor en oor neurie. Dit is egter glad nie dieselfde as Bybelse meditasie nie. Volgens die woordeboek is die woord mediteer, sinoniem met die woorde peins en oordink. Jy kan dit sien in onder meer Ps. 143:5 “ek peins oor al u dade” en Ps. 119:148 “om u woord te oordink”. In die meeste Engelse vertalings, soos onder andere die “King James” en “American Standard”, word dit as “meditate” vertaal. Meditasie kom dus daarop neer dat jy diep wil nadink oor skrifgedeeltes, sodat jy dit deel van jou lewe kan maak.

God het ons elkeen uniek gemaak en daarom wil ek nie voorskriftelik wees oor hoe jy moet mediteer nie. Laat die Heilige Gees jou lei daarmee. Ek wil net graag met jou deel oor hoe ek mediteer. Persoonlik mediteer ek net as ek werklik alleen is en daar niks is wat my aandag kan aftrek nie. Dit is vir my baie lekker om in die natuur te mediteer, maar as dit nie moontlik is nie, dan sommer in enige vertrek waar ek alleen kan wees. Wanneer ek alleen met God is, raak meditasie vir my ʼn sielsveranderende ervaring.

Een van die skrifgedeeltes waaroor ek die graagste mediteer is Psalm 23. In die Psalm vertel Dawid wat sy liefdevolle Vader vir hom beteken. Ek en jy is ook kinders van dieselfde liefdevolle Vader. Dit wat Hy vir Dawid gedoen het, doen Hy ook vir my en jou. Ons besef dit net nie altyd nie. Ons sal die realiteit van die gedeelte al hoe meer besef as ons dit deur middel van meditasie in ons harte skryf.

Wanneer ek oor Psalm 23 mediteer, sien ek myself in die skoene van Dawid. Ek self praat met God en oordink alles wat ek sê. Op so ʼn manier skryf ek die gedeelte in my hart en maak ek dit deel van myself. Natuurlik kan dit nie anders as om my verhouding met God, te verbeter nie!

Om die Psalm my eie gesprek met God te maak, verander ek die “Hy” na “U” en die “die” na “U”.
Die kern van die Psalm word glad nie verander nie. Hieronder staan die oorspronklike Psalm 23, gevolg deur die aangepaste Psalm 23.

Psalm 23 (1953 – vertaling)
1. “ʼn Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
2. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen”.
3. “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil”.
4. “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
5. “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
6. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”

Psalm 23 (aangepas)

1. “ʼn Psalm van Dawid. Here, U is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
2. “U laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei U my heen”.
3. “U verkwik my siel; U lei my in die spore van geregtigheid, om U Naam ontwil”.
4. “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
5. “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
6. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in U huis bly HERE in lengte van dae.”

Ek wil graag deur elke versie van die aangepaste Psalm 23 werk om ʼn aanduiding te gee van hoe ek dit oordink.

Ps. 23:1 “ʼn Psalm van Dawid. HERE, U is my herder; niks sal my ontbreek nie”.
Ek dink nie in hierdie versie daaraan as net “ʼn Psalm van Dawid” nie, maar ook as “ʼn Psalm van myself”. Psalm 23 word daardeur vir my ʼn persoonlike gesprek met God. “U is my Herder” laat my dink aan die kwaliteite van ʼn herder; Sy voorsiening, Sy beskerming, Sy oneindige liefde. Dit laat my ook daaraan dink dat God my so lief het, dat Hy binne my is en ek in Hom. Dat Hy wie Liefde self is, binne my heers. Dat ek nooit sal ontbreek aan die liefde van God nie en dat alles ten goede sal meewerk vir my omdat, ek Hom liefhet.

Ps. 23:2 “U laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei U my heen”.
Met hierdie versie begin ek in meer detail vir God sê wat Hy vir my as Herder en Heerser doen. Ek sien myself in die groen weivelde waarheen God my lei; hier smul ek aan God se liefde, hoop en vreugde. Ek sien ʼn pragtige waterstroompie waarheen God my lei en ek ervaar vrede soos wat net God self dit kan gee. Ek loof en prys God vir die wonder van Sy liefde, hoop, vreugde en vrede.

Ps. 23:3 “U verkwik my siel; U lei my in die spore van geregtigheid, om U Naam ontwil”.
Dit is hier waar ek ervaar hoe God my siel verkwik. Hy neem al die negatiewe gedagtes en ervaringe en breek dit af en vervang dit met nog tonne van sy liefde! Hier dink ek daaraan dat God my verander deur my denke te vernuwe sodat ek volgens Sy wil sal lewe (vgl. Rom. 12:2). Daarom kan ek nie anders as om in Sy spore van geregtigheid gelei te word nie.

Ps. 23:4 “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my”.
Hierdie versie laat my altyd dink aan enige verliese, terugslae, krisisse of probleme wat oor my pad gekom het. Ek dink weereens aan die versie: Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Dan kyk ek terug in my lewe en besef hoe die liefdevolle Vader dinge ten goede laat meewerk. Ek besef dat ek niks hoef te vrees nie, want God is in my en ek in Hom. Ek dink daaraan dat ek nooit alleen is nie, dat Sy liefde altyd in my is en dat Hy my vertroos. Ek dank Hom en prys Hom.

Ps. 23:5 “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”.
Ek dink daaraan dat my teëstanders (die bose) net kan toekyk hoe God sy liefde in my laat groei. Ek dink daaraan dat God my salf met liefde, hoop, geloof en ander gawes soos Hy wil. Sy seëninge van liefde, hoop, geloof en ander gawes loop deur my oor na ander mense.

Ps. 23:6 “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in U huis bly HERE, in lengte van dae”
Ek dink daaraan dat met God binne my en om my, kan dit nie anders as om met my goed te gaan nie. Selfs in slegte tye, want dit is die tye wanneer God sy liefde in my laat groei. Ek dink daaraan dat, met God binne my en ek in Hom, ek al klaar begin het om Sy huis te bewoon en dat dit net beter kan word.

Net so kan jy oor enige gedeelte van die Woord wat tot jou spreek mediteer. Ek hou ook daarvan om oor Ps. 100 en Rom. 12:2 te mediteer. Meditasie kan vir jou in jou soeke na die heerskappy van God in jou, van groot waarde wees.

Deel met ander:

Joernaal

Joernaal

Ek het al ʼn paar keer in my lewe met ʼn joernaal begin; net om dit weer na ʼn paar maande ʼn stadige dood te laat sterf. ʼn Joernaal was vir my ʼn boek waarin ek al my wense neergeskrywe het en God bedank het vir alles wat ek gekry het. Dit kon net sowel ʼn geskrewe gebed gewees het. Sedert ek bewus geword het van die liefde van God binne my en om my, het ʼn joernaal vir my ʼn heel ander betekenis gekry.

Dit het ʼn boek geraak waarin ek alles wat op my hart is met God deel. Dit gaan veral oor my verhouding met God en ek skrywe daarin oor al my belewenisse van Hom. Ek vra ook allerhande vrae oor die dinge omtrent Hom wat ek nog nie verstaan nie en kry dan dikwels antwoorde as God deur my gedagtes met my praat.

Om in my joernaal te skryf is vir my werklik ʼn belewenis van God. Ek glo, dat solank as dit vir my moontlik is, sal ek in my joernaal skrywe. Sal jy nie ook in ʼn joernaal wil skryf nie, veral as jy in ag neem dat jy God, daardeur beter sal leer ken?

Deel met ander:

Gesels met God

Gesels met God

Kan jy nog onthou hoe jy die eerste keer met God gesels het? Ek noem dit gesels, want dit is werklik waarop dit neerkom. Baie van ons, insluitende myself, het leer bid deur rympies op te sê.

Praat jy met jou beste vriende deur rympies op te sê? Ek glo nie, net so wil God ook nie net rympies hoor nie, maar werklik hoor wat jy dink, hoe jy voel, wat jou pla, wat vir jou lekker is, wat jou seer maak, wat jou kwaad maak, wat jou laat lag ensovoorts. Wat ook al, God wil dit hoor!

God luister graag na jou, maar wil ook soms met jou gesels. Indien jy egter die hele tyd besig is met jou eie gedagtes, al dan nou in die verlede of die toekoms, maak jy dit vir jouself baie moeilik om hom te hoor. Glo my, dit is die moeite werd om stil te raak nadat jy gebid het, nie te dink nie, en slegs te luister na God. Hy sal in jou gedagtes, of hoe ook al Hy wil, met jou praat. En nee, Hy praat nie altyd nie, maar dit is die moeite werd om, net ingeval Hy dalk wil, te luister. Indien dit vir jou voel asof jy nooit iets hoor nie, hou net aan, dit sal verander.

Is jy dalk een van die mense wat nie met God wil gesels nie? Hy luister dan nie na jou nie en Hy gee nie vir jou antwoorde nie. Ek ken daai gevoel van moedeloosheid wat op jou toesak as jy nie antwoorde kry nie. Dit het my ook met tye beet gehad, maar sedert ek die waarheid van God se ware liefde in my en om my besef het, het dinge verander. Ek kry steeds nie altyd antwoorde of persoonlike belewenisse nie, maar ek weet dat God luister.

Dit is wonderlik hoe ouerskap ‘n mens help om God beter te verstaan. In hierdie geval is dit die besef dat ‘n mens as ouer ook nie altyd vir jou kind al die antwoorde wil gee nie. Soms is dit nodig vir jou kind om te groei deur dinge self te ervaar. Is dit nie dalk wat God in ons lewens wil doen nie?

Deel met ander:

Hoe werk Ware Liefde?

Hoe werk Ware Liefde?

Die bron van ware liefde is natuurlik God binne jou! Ek is nie daartoe in staat om die werkinge van God in elkeen van ons se unieke lewens te kan verstaan of te verduidelik nie. In breë glo ek dat God omstandighede en gebeurtenisse, wat goed of sleg kan wees, gebruik om ons bewus te maak van die begeerte na ware liefde binne in ons. God kan natuurlik ook radikaal wees, soos met die verblinding van Paulus (Hand. 9:1-20). Hoe dit ook al sy, God wil die gedagte binne in jou plaas om jou bewus te maak van jou begeerte na Hom.

Hoekom gebruik God dan ‘n gedagte? Alles wat jy wil doen of besluit, begin met ‘n gedagte. Selfs al sou ‘n leeu op jou afstorm, dink jy eers voordat jy reageer. Party mense sou sê dat hulle net instinktief sal hardloop, maar wat veroorsaak die instink, dit moet tog ‘n gedagte wees? Jou oë vertel vir jou brein dat ‘n leeu op jou afstorm en jou onmiddellike gedagte is, hardloop. Dit is dan ook net natuurlik dat jou Skepper wat jou beter ken as enigiemand anders ook gedagtes sal gebruik om by jou die begeerte na Hom aan te wakker.

Hoe werk die gedagte ding dan? Was jy al ooit verlief? Dink ʼn bietjie terug aan hoe jy verlief geraak het. Was dit die mooi voorkoms van ‘n pragtige jong dame of heer wat jou aandag getrek het? Was dit die spontaniteit of humorsin? Was dit dalk die sensitiwiteit vir ander mense of was dit dalk sommer net die lekker gesels? Hoe ook al, dit moes met ‘n eerste gedagte begin het, of hoe? Die eerste gedagte en dalk nog ‘n paar ander het gelei tot die begeerte in jou hart om die persoon beter te leer ken. Jou begeerte het daartoe gelei dat jy gepoog het om die ander persoon te leer ken deur meer tyd saam te spandeer en dinge saam te doen.

God plaas die gedagte in jou hart wat lei na ‘n begeerte om Hom beter te leer ken. Teen die tyd weet ons al dat dit sal lei na ware liefde vir God, ware liefde vir jouself en ware liefde vir ander. Net soos in die geval met mense sal jy ook meer tyd met God wil spandeer om Hom te leer ken. Hoekom sê ek nie eerder, moet spandeer nie? Doodeenvoudig, ek glo dat goeie verhoudings gebou word, omdat mense dit graag wil doen. Sodra jy voel dat jy ‘n verhouding met enigiemand moet bou, gaan jy dit heel waarskynlik teensinnig doen en gaan dit of stadig groei of stagneer. Aan die anderkant kan ‘n, “ek moet”, ook tog mettertyd soos mense mekaar leer ken na ‘n, “ek wil”, verander. So indien jy op hierdie stadium voel dat jy tyd met God moet spandeer, doen dit gerus. Ek glo dat ‘n verhouding met God self nie anders kan as om jou, “ek moet”, na ‘n, “ek wil”, te verander nie.

Deel met ander:

Soek jy Ware Liefde?

Soek jy Ware Liefde?

Wat sou jy sê is die grootste vereiste om in enigiets waarin jy belangstel te verbeter? Ek dink dit begin beslis by ʼn begeerte. Wat jy ook al wil bereik, ʼn sterk begeerte sal jou inspireer om spesiale aandag daaraan te gee. Indien dit dan vir enigiets in jou lewe geld, hoekom dan nie ook vir jou verhouding met God of te wel Liefde self nie? Is jou begeerte na God nie sterk genoeg nie? Is die ander dinge in jou lewe werklik meer belangrik? Wat sê die Bybel hieroor?

Luk. 12:31 “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Doen jouself ‘n guns en gaan lees ook die voorafgaande versies. Ek wil egter ook verwys na dié versie soos dit in die “Modern Young’s Literal Translation” staan: Luk. 12:31 “but, seek you the reign of God, and all these things shall be added to you.” Ter verduideliking, die MYLT Bybel is vertaal net soos dit in die Grieks staan, en is dus ‘n meer korrekte weergawe van die oorspronklik Griekse woorde. Vandaar dat die woord “heerskappy” in plaas van “koninkryk” gebruik word.

Die betekenis van die woord, heerskappy, sê net vir my soveel meer as die betekenis van die woord: koninkryk. Koninkryk, is vir my iets wat verwys na ‘n plek soos byvoorbeeld die koninkryk van Engeland. Ek dink mense verwys ook graag daarna as die hemel. Die woord heerskappy sê vir my dat hier iets aan te gebeur is. Hier word geheers en dit is geensins plek gebonde nie. Wie kan dan nou ook God net op ‘n spesifieke plek plaas?

Soek jy eerder na die koninkryk van God of soek jy na die heerskappy van God? Ek kies loshande die heerskappy van God, omdat Hy dan binne in my heers. God is mos binne my en ek in Hom. Mense, as God eers binne jou heers, is jy in ‘n ander wêreld, want dan raak dit al hoe makliker om jouself waarlik lief te hê. Dit kan mos nie anders nie, want God of anders gestel, Liefde, heers dan in jou!

Goed, maar hoe soek ek dan na die heerskappy van God? Indien jy die voorgaande vraag aan jouself stel, dan vermoed ek dat jy alreeds ‘n begeerte in jou hart het na die heerskappy van God in jou lewe. Jy soek dus na ware liefde en geluk in jou lewe.

Wat dan indien jy nie die begeerte het nie? Dan wil ek net graag vir jou sê dat jy net nog nie daarvan bewus is nie. Diep binne in jou is dit wel daar! Ons het ‘n natuurlike honger na ware liefde. Die honger het jy al gehad toe jy nog doeke gedra het. Waarmee kan jy die honger stil, indien nie ware liefde nie? Is dit status, prestasies, baie geld, mooi motors, mooi huise, mense, jou lewensmaat of iets anders wat ek nie genoem het nie? Die vraag wat jy jouself kan afvra, is: Hoe lank kan die goed of mense my gelukkig maak? Is dit nie maar net tydelik van aard nie? Soek jy nie telkens, maar weer na iets anders om jou gelukkig te maak nie? Raak die voortdurende gesoek na geluk nie naderhand ‘n sinnelose vermorsing van tyd nie? Dink jy nie dat daar baie meer potensiaal daarin is om eerder na die heerskappy van Ware Liefde binne jou te soek nie? Ek kan jou verseker dat jy nie spyt sal wees nie.

Dit bring my by die tweede deel van die versie: Luk 12:31- Maar soek die heerskappy van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Wat is al hierdie dinge waarvan Jesus hier praat? In vers 27 maak Jesus ‘n vergelyking wat ‘n mens stom slaan: Luk 12:27- Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. Jesus sê dus dat jy jou nie moet bekommer oor of jy al die dinge wat nou vir jou belangrik is gaan kry nie, want God weet wat jy nodig het en jy sal dit kry.

In my woorde, soek dus eers na die heerskappy van Ware Liefde of te wel God in jouself, en al die dinge wat jy nodig het, sal vir jou gegee word. Die belangrikste dinge sluit in ware liefde vir God, jouself, jou naaste en daarmee saam die geluk waarna jy so soek. Wat meer wil ‘n mens hê?

Deel met ander: