Mediteer met Musiek

Dit is wonderlik om met musiek te mediteer. Soms is die woorde alleen, genoeg. Sekelmaan deur Retief Burger is vir my besonders!

“My eenvoudige gebed is dat jy sal ophou soek! En sal, hoor hoe die Here, die bron van liefde, liefde self oor jou sing! Dalk kan jy dit nie glo nie, dalk wil jy dit nie glo nie, maar vat dit! Hoor wat Hy oor jou sing!”

Vanaand se sekelmaan is net vir jou
Mag hy dans tot in jou hart en sy arms om jou vou
Want as hy kon praat sou hy eenvoudig sê
Hoe diep my liefde hierbinne vir jou lê

Mensekind ek weet jou hart is broos,
Want die twyfel trek jou jou skeef en jy’s leeg en moedeloos
Maar as jy my oë vir ’n oomblik sou kon leen
Sou jy ’n bruid sien, in wit geklee

En weet jy wie dit is? Kan jou aardse siel
begryp na wie ek verlang?

Dit is jy, my bruid in ewigheid
Een kyk van jou oë en die hout se pyn verdwyn
Dit is jy, geliefde van my
Ek is hier by jou, in jou, om jou net lief te hê…

En al sou jy ook die deur in my gesig toeslaan
En die leuens bly glo dat ek net nie bestaan
Sal ek nog steeds my liefde vir jou kom wys,
’n Gebreekte lyf wat hang aan ’n kruis
Weet jy wie jy is? Kan jou aardse siel begryp na wie ek verlang?

Deel met ander:

Gesels met God

Kan jy nog onthou hoe jy die eerste keer met God gesels het? Ek noem dit gesels, want dit is werklik waarop dit neerkom. Baie van ons, insluitende myself, het leer bid deur rympies op te sê.

Praat jy met jou beste vriende deur rympies op te sê? Ek glo nie, net so wil God ook nie net rympies hoor nie, maar werklik hoor wat jy dink, hoe jy voel, wat jou pla, wat vir jou lekker is, wat jou seer maak, wat jou kwaad maak, wat jou laat lag ensovoorts. Wat ook al, God wil dit hoor!

God luister graag na jou, maar wil ook soms met jou gesels. Indien jy egter die hele tyd besig is met jou eie gedagtes, al dan nou in die verlede of die toekoms, maak jy dit vir jouself baie moeilik om hom te hoor. Glo my, dit is die moeite werd om stil te raak nadat jy gebid het, nie te dink nie, en slegs te luister na God. Hy sal in jou gedagtes, of hoe ook al Hy wil, met jou praat. En nee, Hy praat nie altyd nie, maar dit is die moeite werd om, net ingeval Hy dalk wil, te luister. Indien dit vir jou voel asof jy nooit iets hoor nie, hou net aan, dit sal verander.

Is jy dalk een van die mense wat nie met God wil gesels nie? Hy luister dan nie na jou nie en Hy gee nie vir jou antwoorde nie. Ek ken daai gevoel van moedeloosheid wat op jou toesak as jy nie antwoorde kry nie. Dit het my ook met tye beet gehad, maar sedert ek die waarheid van God se ware liefde in my en om my besef het, het dinge verander. Ek kry steeds nie altyd antwoorde of persoonlike belewenisse nie, maar ek weet dat God luister.

Dit is wonderlik hoe ouerskap ‘n mens help om God beter te verstaan. In hierdie geval is dit die besef dat ‘n mens as ouer ook nie altyd vir jou kind al die antwoorde wil gee nie. Soms is dit nodig vir jou kind om te groei deur dinge self te ervaar. Is dit nie dalk wat God in ons lewens wil doen nie?

Deel met ander:

Tyd met Hom…

Wat doen jy in jou spesiale tyd? Persoonlik het ek nie ‘n vaste resep nie. Ek doen wat ook al my hart vir my op die oomblik vertel. Ek bestudeer die Bybel, bid, skryf in my persoonlike joernaal, lofprys en aanbid, mediteer en gesels met Hom wanneer ek gaan stap. Met die lees van die woord, mediteer, wil sommige van julle dalk nie eers die moeite doen om verder te lees nie. Daarom wil ek sommer nou al sê, dat ek praat van Bybelse meditasie soos dit waarvan Dawid in die Psalms praat.

Daar is twee dinge wat ons tyd met God spesiaal maak. Die een is kennis en die ander een is die intieme belewenisse. Die een gaan hand aan hand met die ander. Die een laat jou toe om die ander met volle vryheid te kan beleef. Die hoofbron van kennis is tog die Woord van God en die Woord word weer in die belewenisse van lofprysing, aanbidding, en meditasie toegepas. Dit alles bring jou nader aan God, wat natuurlik daartoe lei dat jou liefde vir jouself en ander ook groei.

Deel met ander:

Hoe om Hom beter te leer ken

In die hedendaagse lewe het tyd baie kosbaar geword. Dit het nodig geraak om jou dag haarfyn te beplan. In die besluite gaan dit nie net meer oor wanneer jy wat wil doen nie, maar beslis ook oor hoe jy dit gaan doen. Dieselfde geld beslis ook vir jou verhouding met God, jouself en ander.

Vir my is jou verhouding met God tweeledig, aan die een kant is daar die spesiale tye wat jy alleen met God spandeer. Aan die ander kant is God binne jou en jy in Hom en julle is dus 24 uur ‘n dag in mekaar se teenwoordigheid. Ek dink dit is nogal baie spesiaal of hoe?

Persoonlik gesels ek dikwels deur die dag met God oor verskillende goed wat kan wissel vanaf mense tot werk of sommer die alledaagse. Dit is veral lekker om met Hom te kan gesels as daar iets is wat my pla of as ek myself midde in een of ander krisis bevind.

Dan is daar die spesiale tye wanneer ek werklik God hierbinne in my ervaar en oor diep dinge gesels. Dit is in hierdie tye wat my liefde vir God groei en dan natuurlik ook my liefde vir myself en vir ander. Gedurende hierdie tye is ek so na aan God dat niks anders werklik saak maak nie. Sal dit nie lekker wees om elke minuut van die dag so na aan God te kan leef nie! Dink jouself in so ‘n situasie in! Niks sal jou kan ontstel nie, niks sal jou bekommer nie, geen besluit sal vir jou te moeilik wees nie en jy sal jouself gate uit geniet. Jy sal sommer net kan lief wees vir God, jouself en ander! Jy sal alles in die lewe met liefde hanteer, selfs die moeilike tye. Ek wil waag om te sê dat daar nie ‘n enkele mens hier op aarde is wat nie in sy diepste wese streef na die wonder van ‘n liefdesverhouding met God nie. Ek begeer net al hoe meer van God self, en jy?

Het jy ‘n visie oor jou verhouding met God? Anders gestel, hoe sien jy jou verhouding met God oor ‘n paar jaar? Kyk ‘n bietjie terug na die laaste 5 jaar in jou verhouding met God. Wat sien jy? Is dit nog dieselfde of het dit sterker geword? Sou ʼn visie moontlik ʼn verskil in jou groei kon gemaak het? Ek dink tog dat ʼn visie, in die gejaagde lewe van vandag, ʼn verskil kan maak.

Oor die algemeen word groot ondernemings se visie in groot letters uitgestal op die mure binne hulle geboue. Die doel onder andere is om personeel te herinner aan die visie van die onderneming. Indien jy ʼn visie oor ʼn liefdesverhouding met God het, hoe herinner jy jouself daaraan? In die eerste plek glo ek dat as jy die begeerte van ‘n dieper verhouding met God het, sal jy dit in jou hart skryf. Verder kan jy dit ook op jou kamermuur plak, in jou dagboek of beursie skryf of sommer ‘n “reminder” op jou selfoon plaas. My visie is om my liefdesverhouding met God so te laat groei dat ek elke sekonde van die dag bewus sal wees van Sy teenwoordigheid in my sodat ek in alles wat ek dink, doen of besluit Sy wil sal uitlewe!

Voordat ek met die meer praktiese aspekte begin, wil ek net ʼn kort samevatting gee van die belangrike aspekte wat ek alreeds aangeraak het. Ware liefde begin met ‘n begeerte in jou hart wat God daar plaas deur middel van gedagtes. Tweedens is dit belangrik om oor die tyd wat jy aan jou verhouding met God wil spandeer te dink. Natuurlik heeldag en dan ook spesiale tye. Laastens het ek gepraat oor die belangrikheid daarvan om ‘n visie te hê oor waarheen jou verhouding met God op pad is.

Elkeen van ons is uniek en daarom wil ek geensins voorskriftelik wees oor die besluite wat ons rakende tye en visie moet neem nie. Wees net versigtig vir te veel van ‘n roetine. Ons as mense kan dikwels so vasgevang word deur roetines dat ons die tyd met God as net nog iets beskou wat op ‘n bepaalde tyd afgehandel moet word. As ons hierin vasgevang is, maak ons dit vir ons self moeilik om God se stem op enige ander tyd te hoor en is ons dalk so op ons horlosies gefokus dat ons God glad nie hoor nie. Ek waag dit om te sê dat jy in so ‘n situasie baie stadig in jou liefde vir God, jouself of ander sal groei.

Deel met ander:

Hoe werk Ware Liefde?

Die bron van ware liefde is natuurlik God binne jou! Ek is nie daartoe in staat om die werkinge van God in elkeen van ons se unieke lewens te kan verstaan of te verduidelik nie. In breë glo ek dat God omstandighede en gebeurtenisse, wat goed of sleg kan wees, gebruik om ons bewus te maak van die begeerte na ware liefde binne in ons. God kan natuurlik ook radikaal wees, soos met die verblinding van Paulus (Hand. 9:1-20). Hoe dit ook al sy, God wil die gedagte binne in jou plaas om jou bewus te maak van jou begeerte na Hom.

Hoekom gebruik God dan ‘n gedagte? Alles wat jy wil doen of besluit, begin met ‘n gedagte. Selfs al sou ‘n leeu op jou afstorm, dink jy eers voordat jy reageer. Party mense sou sê dat hulle net instinktief sal hardloop, maar wat veroorsaak die instink, dit moet tog ‘n gedagte wees? Jou oë vertel vir jou brein dat ‘n leeu op jou afstorm en jou onmiddellike gedagte is, hardloop. Dit is dan ook net natuurlik dat jou Skepper wat jou beter ken as enigiemand anders ook gedagtes sal gebruik om by jou die begeerte na Hom aan te wakker.

Hoe werk die gedagte ding dan? Was jy al ooit verlief? Dink ʼn bietjie terug aan hoe jy verlief geraak het. Was dit die mooi voorkoms van ‘n pragtige jong dame of heer wat jou aandag getrek het? Was dit die spontaniteit of humorsin? Was dit dalk die sensitiwiteit vir ander mense of was dit dalk sommer net die lekker gesels? Hoe ook al, dit moes met ‘n eerste gedagte begin het, of hoe? Die eerste gedagte en dalk nog ‘n paar ander het gelei tot die begeerte in jou hart om die persoon beter te leer ken. Jou begeerte het daartoe gelei dat jy gepoog het om die ander persoon te leer ken deur meer tyd saam te spandeer en dinge saam te doen.

God plaas die gedagte in jou hart wat lei na ‘n begeerte om Hom beter te leer ken. Teen die tyd weet ons al dat dit sal lei na ware liefde vir God, ware liefde vir jouself en ware liefde vir ander. Net soos in die geval met mense sal jy ook meer tyd met God wil spandeer om Hom te leer ken. Hoekom sê ek nie eerder, moet spandeer nie? Doodeenvoudig, ek glo dat goeie verhoudings gebou word, omdat mense dit graag wil doen. Sodra jy voel dat jy ‘n verhouding met enigiemand moet bou, gaan jy dit heel waarskynlik teensinnig doen en gaan dit of stadig groei of stagneer. Aan die anderkant kan ‘n, “ek moet”, ook tog mettertyd soos mense mekaar leer ken na ‘n, “ek wil”, verander. So indien jy op hierdie stadium voel dat jy tyd met God moet spandeer, doen dit gerus. Ek glo dat ‘n verhouding met God self nie anders kan as om jou, “ek moet”, na ‘n, “ek wil”, te verander nie.

Deel met ander:

Soek jy Ware Liefde?

Wat sou jy sê is die grootste vereiste om in enigiets waarin jy belangstel te verbeter? Ek dink dit begin beslis by ʼn begeerte. Wat jy ook al wil bereik, ʼn sterk begeerte sal jou inspireer om spesiale aandag daaraan te gee. Indien dit dan vir enigiets in jou lewe geld, hoekom dan nie ook vir jou verhouding met God of te wel Liefde self nie? Is jou begeerte na God nie sterk genoeg nie? Is die ander dinge in jou lewe werklik meer belangrik? Wat sê die Bybel hieroor?

Luk. 12:31 “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Doen jouself ‘n guns en gaan lees ook die voorafgaande versies. Ek wil egter ook verwys na dié versie soos dit in die “Modern Young’s Literal Translation” staan: Luk. 12:31 “but, seek you the reign of God, and all these things shall be added to you.” Ter verduideliking, die MYLT Bybel is vertaal net soos dit in die Grieks staan, en is dus ‘n meer korrekte weergawe van die oorspronklik Griekse woorde. Vandaar dat die woord “heerskappy” in plaas van “koninkryk” gebruik word.

Die betekenis van die woord, heerskappy, sê net vir my soveel meer as die betekenis van die woord: koninkryk. Koninkryk, is vir my iets wat verwys na ‘n plek soos byvoorbeeld die koninkryk van Engeland. Ek dink mense verwys ook graag daarna as die hemel. Die woord heerskappy sê vir my dat hier iets aan te gebeur is. Hier word geheers en dit is geensins plek gebonde nie. Wie kan dan nou ook God net op ‘n spesifieke plek plaas?

Soek jy eerder na die koninkryk van God of soek jy na die heerskappy van God? Ek kies loshande die heerskappy van God, omdat Hy dan binne in my heers. God is mos binne my en ek in Hom. Mense, as God eers binne jou heers, is jy in ‘n ander wêreld, want dan raak dit al hoe makliker om jouself waarlik lief te hê. Dit kan mos nie anders nie, want God of anders gestel, Liefde, heers dan in jou!

Goed, maar hoe soek ek dan na die heerskappy van God? Indien jy die voorgaande vraag aan jouself stel, dan vermoed ek dat jy alreeds ‘n begeerte in jou hart het na die heerskappy van God in jou lewe. Jy soek dus na ware liefde en geluk in jou lewe.

Wat dan indien jy nie die begeerte het nie? Dan wil ek net graag vir jou sê dat jy net nog nie daarvan bewus is nie. Diep binne in jou is dit wel daar! Ons het ‘n natuurlike honger na ware liefde. Die honger het jy al gehad toe jy nog doeke gedra het. Waarmee kan jy die honger stil, indien nie ware liefde nie? Is dit status, prestasies, baie geld, mooi motors, mooi huise, mense, jou lewensmaat of iets anders wat ek nie genoem het nie? Die vraag wat jy jouself kan afvra, is: Hoe lank kan die goed of mense my gelukkig maak? Is dit nie maar net tydelik van aard nie? Soek jy nie telkens, maar weer na iets anders om jou gelukkig te maak nie? Raak die voortdurende gesoek na geluk nie naderhand ‘n sinnelose vermorsing van tyd nie? Dink jy nie dat daar baie meer potensiaal daarin is om eerder na die heerskappy van Ware Liefde binne jou te soek nie? Ek kan jou verseker dat jy nie spyt sal wees nie.

Dit bring my by die tweede deel van die versie: Luk 12:31- Maar soek die heerskappy van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Wat is al hierdie dinge waarvan Jesus hier praat? In vers 27 maak Jesus ‘n vergelyking wat ‘n mens stom slaan: Luk 12:27- Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. Jesus sê dus dat jy jou nie moet bekommer oor of jy al die dinge wat nou vir jou belangrik is gaan kry nie, want God weet wat jy nodig het en jy sal dit kry.

In my woorde, soek dus eers na die heerskappy van Ware Liefde of te wel God in jouself, en al die dinge wat jy nodig het, sal vir jou gegee word. Die belangrikste dinge sluit in ware liefde vir God, jouself, jou naaste en daarmee saam die geluk waarna jy so soek. Wat meer wil ‘n mens hê?

Deel met ander:

Oorsprong van Ware Liefde

Die fondament, behalwe vir logika, kom uit die boek wat die meeste verkope ter wêreld het. Dit is natuurlik die Bybel. Ek is geensins ‘n kenner van die Bybel nie. Ek dink dit vat jare se intense studie en beslis ook kennis van Grieks en Hebreeus voordat jy ‘n kenner van die Bybel kan word. Selfs dan glo ek dat dit op die einde van die dag net die Heilige Gees is wat vir jou die waarhede in die Bybel openbaar.

Die versie wat vir my alles bevestig, sê doodeenvoudig, dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Mark. 12:31). Vir my is dit heel duidelik dat as jy nie jouself waarlik kan lief hê nie, jy ook nie jou naaste waarlik sal kan liefhê nie?

Goed, nou waar begin ‘n mens as jy jouself nie waarlik lief het nie? Ek dink ‘n ondersoek na die oorsprong van liefde sal vir ons die antwoord gee. Liefde moet tog van iewers af kom! Hoekom voel mense soms dat daar ‘n leemte binne hulle is? Kan ware liefde dalk die leemte vul? Indien jy dit nie alreeds weet nie, glo ek dat die volgende vir jou ‘n wonderlike ontdekking gaan wees. Die volgende 2 versies gee vir jou die geheim van ware liefde. 1 Joh. 4:7 sê: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God ”. 1 Joh. 4:16 sê dit net op ‘n ander manier: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom”. Meer duidelik kan ek dit nie stel nie. God is liefde en die liefde is uit God.

Voor ek begin om meer prakties daaroor te gesels wil ek net graag almal daaraan herinner dat sekerlik die grootste liefdesdaad ooit, was toe God sy seun, Jesus, opgegee het sodat ons almal sy liefde eerstehands kan beleef. Sal jy bereid wees om jou kind, jou troeteldier of jouself deur sulke marteling te laat gaan sodat ander liefde kan beleef en verstaan? Neem die tyd om te dink oor hoe so iets jou persoonlik sou kon raak. Mens sou amper kon sê dat ‘n mens ‘n bietjie getik moet wees om so iets te kan doen, of is dit eerder net die oneindige grootheid van ware liefde? Verstaan ons dit regtig?

Ek glo nie dat daar enigsins twyfel kan bestaan oor die werklikheid van God se liefde nie. Hy is dan liefde self! (Joh. 4:16) Hy het dit vir my en jou moontlik gemaak om ‘n perfekte liefdesverhouding aan te knoop. Dink ‘n bietjie daaraan wat kan meer perfek wees om met liefde self(God) ‘n verhouding te hê. Wat kan meer perfek wees as liefde wat die hele tyd sommer binne jou is. Jy hoef nie te soek daarna nie, of te verlang daarna nie, want dit is deel van jou.

Dit eindig nie daar nie, want God is nie net in jou nie, maar jy is ook in Hom. Dit sê net soveel meer! Hy is nie net liefde binne jou nie, maar omvou jou ook in liefde. As dit dan nou nie ware liefde is nie, wat is dan? Indien jy ooit sou dink dat niemand jou lief het nie dink net daaraan dat God, wie liefde self is, jou so lief het dat hy binne jou en om jou 24 uur ‘n dag is.

Het jy al liefde so binne jou en om jou ervaar? Onthou net dit is nie altyd ‘n emosionele ervaring nie, maar dit kan soos met enige verhouding wel emosioneel raak. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die liefde tussen ‘n ouer en ‘n kind. Alhoewel die liefde beslis altyd daar is, is dit beslis nie net emosioneel nie. Boonop is dit nie liefde waaroor besluit is nie. Jy is eenvoudig net lief vir jou kind en jou kind is eenvoudig net lief vir jou. Dit is daardie band van liefde tussen julle wat deur God in julle en om julle geplaas is.

Terwyl ons hier is, net ‘n paar vrae wat dalk vir jou belangrik kan wees om te antwoord. Kan jy eerlik sê dat jy dink jou ouers is lief vir jou? Dink jy dat jou Oupa en Ouma lief is vir jou ouers? Is jou Oupa en Ouma lief vir jou? Dink jy dat jou ouers, Oupa en Ouma hulleself waarlik lief het? Dink jy dat hulle besef dat God se liefde in en om hulle is? Het jy jou ouers werklik lief? Sal julle mekaar nie dalk meer lief kry nie as julle net julleself ook waarlik lief kry nie? Hoe dit ook al sy, God het jou inniglik lief. Jou ouers het jou ook lief. Hulle weet net nie altyd hoe om lief te hê nie.

Een ding is seker, Ware Liefde (God self) is in jou en om jou! Dit is die sleutel tot ware liefde vir jouself. Hoe kan jy nie jouself liefhê, as God binne jou is nie? Hoe kan jy jouself afkraak as God binne jou is? Hoekom het jy nodig om ander af te kraak as God binne jou is? Hoekom het jy nodig om groot te praat as God in jou is? Besef jy werklik dat die teenwoordigheid van God binne jou, jou so spesiaal maak dat jy nie nodig het om jouself aan mense te bewys nie, of nodig het om jouself voor ander te verkleineer nie of moet voorgee dat jy iemand anders is nie. Nee, dit is nie slegs drome nie, maar ‘n werklikheid en ‘n werklikheid wat God graag vir jou wil gee. Hy wil ‘n liefdesverhouding met jou aanknoop. Hy wil hê dat jy jouself waarlik moet lief kry.

Deel met ander:

Wie is jy?

Ek wonder hoe goed ken jy jouself. Om jouself waarlik te kan liefhê moet jy tog jouself ken. Indien jy nie jouself ken nie, wil jy mos jouself leer ken, of hoe? Ons is elkeen uniek en daarom glo ek beslis nie daarin om mense as sekere tipes persoonlikhede of sterretekens en dies meer te klassifiseer nie. Dink ‘n bietjie terug, is jy werklik nog dieselfde mens as 10 jaar terug? Hoe realisties kan die klassifikasies dan wees? Jy is nie vasgekeer in ‘n sekere tipe persoonlikheid nie en jy kan, met genade van God, beslis verander na die mens wat God vir jou bestem het om te wees. Jy moet net lief raak vir jou self.

Ek noem hieronder ‘n paar eienskappe van mense, maar dit is slegs ‘n raamwerk om jou ‘n idee te kan gee van wie jy op hierdie oomblik is en oor hoekom jy jouself nog nie waarlik lief het nie.

Al gehoor dat mense half sarkasties sê: “Daai ou is verskriklik lief vir homself!” Ironies genoeg is so ‘n persoon dalk juis nie baie lief vir homself nie. Dink net daaraan, hoekom moet jy die heeltyd jou eie beul blaas? Dalk is jy so ongelukkig binne jouself dat jy al die aandag op jouself wil hê om belangrik te kan voel. Is jy werklik lief vir jouself?

Mens, maar moet nie vergeet nie dat party mense net lewendig van geaardheid is nie. Wie geniet nou nie ‘n mens met ‘n lewendige geaardheid nie. Sulke mense is dikwels die lewe van ‘n byeenkoms. Onderskei derhalwe mooi voor jy ‘n “die ou is verskriklik lief vir homself etiket” aan iemand heg. Weet jy as jy regtig lief raak vir jouself gaan jy nie sommer ‘n etiket op iemand anders plaas nie. Dit sal nie ‘n besluit wees nie, dit sal sommer net so wees.

Dan kry jy mense wat altyd lyk of hulle agter ‘n tafel wil wegkruip as hulle jou sien. Jy is nie dalk een van die tipe mense wat sukkel om ‘n ander in die oë te kyk nie? Dalk te bang om iets te sê. Dalk te bang om voluit te lewe! Sou jy sê dat jy jouself waarlik lief het?

Daar is die stil, ernstige mense. Hulle is so intens gefokus om doelwitte te bereik dat hulle nie eers bewus is van ander mense se bestaan nie. Is jy dalk só doelgerig dat jy baie van die mooi dinge in die lewe soos liefde vir jouself en vir ander heeltemal miskyk? Dink jy dalk dat deur jou doel te bereik gaan jy die toppunt van geluk bereik? Hoe permanent, dink jy sal die geluk wees? Vergelyk dit met hoe jou opgewondenheid oor ‘n nuwe motor met die verloop van tyd vervaag. Wat dryf jou – is dit status, rykdom of ware liefde?

Wie ken nie ‘n kwaai mens nie? Hulle kom partykeer so skielik op jou pad en raas oor iets wat totaal en al onbenullig is. Daar is niks daarmee verkeerd om kwaad te word nie, solank dit met goeie rede is. Soms is dit regtig nodig vir jou en ander se beswil. Indien jy egter heeldag en aldag oor ander kla en werklik onnodig kwaai is, kan ek nie help nie om te wonder, hoekom dan so? Kla jy nie dalk ook heeldag oor jou eie doen en late nie en raak jy nie dan nog boonop sommer kwaad vir jouself nie? Dit is nie altyd so maklik om so iets in jouself te identifiseer nie, maar met ‘n bietjie nabetragting oor ‘n paar dae kom jy dit dalk tog agter. Die ooglopende vraag is: Dink jy dit is goed om jouself aanmekaar af te kraak? Dink jy dat jy jouself waarlik lief het? Indien wel, hoekom dan die heeldag se gebaklei met jouself en ander mense?

‘n Laaste groep mense waaraan ek kan dink, is seker die moeilikste om te identifiseer. Dit is die ou wat altyd alles reg doen. Die persoon is altyd op tyd, reg aangetrek en sê altyd die regte goed vir die regte mense. Moet jy altyd in beheer wees, moet jy altyd alles perfek doen en moet jy altyd goed lyk? Dink jy dat dit regtig is hoe jy is, of is dit dalk net hoe jy graag wil hê ander mense jou moet sien? Indien jy jouself waarlik lief het, hoekom is dit dan nodig dat alles altyd perfek voor ander se oë moet wees?

Kan jy jouself in die voorbeelde hierbo identifiseer? Is jy dalk ‘n kombinasie van verskillende tipes, of is jy sommer net heel anders? Dit is beslis moontlik om anders te wees, elkeen van ons is mos uniek. Hoe jy jouself ook al identifiseer, glo ek dat elkeen van ons daarna wil streef om werklik so lief vir onsself te wees dat ons nie ander persone nodig het om gelukkig te wees nie. Ek waag dit om te sê, hoe meer jou ware liefde vir jouself, hoe minder sal jou onsekerheid word met die neem van besluite. Jy sal net al hoe meer weet wat jy wil hê. Dink jy dit is moontlik?

Deel met ander:

Hoe seker is jy oor Ware Liefde?

Ek wil graag die basiese dinge wat ek van ware liefde geleer het met jou deel. Dit is eintlik so eenvoudig. Jy het sekerlik al dikwels daarvan gelees of daarvan gehoor, maar dalk nog nooit die diepte daarvan besef nie.

Ons almal besef dat mense dikwels onseker is oor die betekenis van ware liefde. Dink jy nie die redes vir ons onsekerheid kan dalk vir ons antwoorde gee oor ware liefde nie? As jy nie onseker was nie, sou dit tog baie maklik gewees het om ‘n besluit te kon neem. Dink jou in ‘n wêreld in waarin almal seker is van wat hulle wil hê. Jy sou nie meer ‘n besluit hoef te geneem het nie, jy sou sommer net geweet het. Jy sou sommer net kon lief hê. Mmm… nog beter, jy sou onvoorwaardelik kon lief hê. Is dit werklik moontlik? Hoe dink jy?

Wat veroorsaak die onsekerheid dan? Kom ons begin by die samestelling van liefde. Daar is tog twee persone nodig of hoe? Miskien dalk net een? Lê die probleem van die onsekerheid by jou, of dalk by die ander persoon? Dit kan tog enige van die twee opsies insluit, behalwe as beide onseker is. Feit is, jy kan binne jouself weet wat jy wil hê, maar is dit ook wat die ander persoon wil hê? Hoe kan jy weet of die ander persoon seker is? Dit is glad nie ʼn maklike vraag nie en dit kan selfs ‘n mens wat wel seker was, onseker maak.

Die slim mense sê altyd dat jy nie jou tyd moet mors op iets wat jy nie kan verander nie, maar eerder moet fokus op iets wat jy wel kan verander. Fokus dus eerder op die belangrikste! Ware liefde vir jouself! Ja, indien jy dit nie geweet het nie, ware liefde begin beslis by jouself. Dink jy nie dat as jy ware liefde binne jouself beter verstaan, dit dalk makliker sal wees om ander waarlik lief te hê nie?

Een van die belangrikste vrae wat jy ooit in jou lewe gevra sal word, is: “Het jy jouself onvoorwaardelik lief?” Mens, ek sê vir jou, die is ‘n taai een. Dink eers goed daaroor na voordat jy sommer net “ja” sê. Indien jy nie weet nie of dalk nee sê, glo my dit is nie die einde van die wêreld nie, maar die begin van ‘n wonderlike ontdekkingsreis.

Deel met ander:

Wat is Liefde?

Wat is liefde? Of eerder, wat is ware liefde? Dit is seker ʼn vraag wat amper so oud soos die mensdom is. Dit is baie moontlik dat ieder en elk van ons al daaroor gewonder het. Geen wonder dan dat elke tweede storieboek of fliek se hooftema liefde is nie. Indien nie die hooftema nie, word dit altyd op een of ander manier ingewerk. Wanneer laas het jy byvoorbeeld ʼn aksie fliek sonder ‘n tikkie romanse gesien? En slaag die skrywers van romantiese stories nie wonderlik daarin om liefde as ʼn absolute hemel op aarde uit te beeld nie? Hoe realisties is die romantiese uitbeeldings van liefde? Hoe dink jy, is dit werklik ware liefde? Aan die ander kant van die spektrum is die ernstige studente. Dit is die mense wat diep navors en sielkundige of geestelike boeke oor die onderwerp skryf. Ander mense gryp graag na al die boeke, video’s en natuurlik die internet om te help om daardie belangrike liefdesbesluite te neem. Wat sou jy sê, is nader aan die waarheid? Die idealistiese beeld geskep deur die vermaaklikheidswêreld of die meer realistiese, dog ernstiger beskouing van die studente. Is ware liefde ‘n besluit of is dit nie dalk sommer net om lief te wees nie? Lees asseblief verder! Dit gaan jou glad nie lank neem nie en dit kan beslis jou lewe ten goede verander.
Deel met ander: