Spesiale Tye met Ware Liefde bl. 3

Lofprysing en Aanbidding

Ai, dit is mos lekker as iemand vir jou sê dat jy ‘n mooi drie gedruk het of dalk vir jou sê dat jy mooi oë het. Dit laat jou mos goed voel en dit bevorder jou selfvertroue en selfliefde. Dink jy nie dat dit vir God ook lekker is as ons Hom loof en prys nie? Hy het dit beslis nie nodig vir selfvertroue of selfliefde nie, maar Hy geniet dit beslis. Psalm 22:3 bevestig dit: Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel! Dink jy dat Dawid dit so pertinent sou gestel het indien God nie die aandag geniet het nie? Sou engele gesing het by die geboorte van Jesus? Geen twyfel nie, God geniet dit!

Lofprysing en aanbidding gaan oor God en jou belewenis van Hom. Dit gaan nie oor hoe mooi jy sing nie of oor hoe goed jy lyk nie. God is lief vir jou soos jy is! Indien jy dink dat lofprysing en aanbidding iets is wat net in die kerk hoort, maak jy ‘n groot fout. Jou mees intieme gesprekke met geliefdes vind tog nie in die openbaar plaas nie. Hoekom dan anders met God?

In jou alleenheid met God is daar niks anders wat jou aandag aftrek nie. Jy het die vryheid om jouself volkome uit te leef. Jy kan wees soos God jou geskep het. Jy kan sing, dans, spring, hardop met God gesels of sommer net luister na ‘n CD.

Dit is veral wanneer ek alleen is dat ek dit geniet om te lofprys en aanbid. Dan is dit net ek en God en beleef ek van die kosbaarste tye van my lewe. Dit raak sommer baie persoonlik en ek praat met God oor wat Hy vir my beteken en ek dank Hom vir die wonder van Sy liefde binne my. Gedurende hierdie oomblikke ervaar ek God se teenwoordigheid en hoor ek Hom as Hy met my praat.

Deel met ander: