Oorsprong van Ware Liefde bl. 2

Voor ek begin om meer prakties daaroor te gesels wil ek net graag almal daaraan herinner dat sekerlik die grootste liefdesdaad ooit was toe God sy seun, Jesus, opgegee het sodat ons almal sy ware liefde eerstehands kan beleef. Sal jy bereid wees om jou kind, jou troeteldier of jouself deur sulke marteling te laat gaan sodat ander ware liefde kan beleef en verstaan? Neem die tyd om te dink oor hoe so iets jou persoonlik sou kon raak. Mens sou amper kon sê dat ’n mens ’n bietjie getik moet wees om so iets te kan doen, of is dit eerder net die oneindige grootheid van ware liefde? Verstaan ons dit regtig?

Ek glo nie dat daar enigsins twyfel kan bestaan oor die werklikheid van God se liefde nie. Hy is dan liefde self! (Joh. 4:16) Hy het dit vir my en jou moontlik gemaak om ‘n perfekte liefdesverhouding aan te knoop. Dink ‘n bietjie daaraan wat kan meer perfek wees om met liefde self ’n verhouding te hê. Wat kan meer perfek wees as liefde wat die hele tyd sommer binne jou is. Jy hoef nie te soek daarna nie, of te verlang daarna nie, want dit is deel van jou.

Dit eindig nie daar nie, want God is nie net in jou nie, maar jy is ook in Hom. Dit sê net soveel meer! Hy is nie net liefde binne jou nie, maar omvou jou ook in liefde. As dit dan nou nie ware liefde is nie, wat is dan? Indien jy ooit sou dink dat niemand jou lief het nie dink net daaraan dat God, wie liefde self is, jou so lief het dat hy binne jou en om jou 24 uur ’n dag is.

Deel met ander:

Oorsprong van Ware Liefde

Die fondament, behalwe vir logika, vir ware liefde kom uit die boek wat die meeste verkope ter wêreld het. Dit is natuurlik die Bybel. Weereens is ek geensins ’n kenner van die Bybel nie. Ek dink dit vat jare se intense studie en beslis ook kennis van Grieks en Hebreeus voordat jy ’n kenner van die Bybel kan word. Selfs dan glo ek dat dit op die einde van die dag net God se Gees is wat vir jou baie meer in die Bybel kan openbaar as dit wat voor die hand liggend is.

Die versie wat vir my alles bevestig, sal nogal baie goed doen in ‘n Top 10 vir versies. Dit sê doodeenvoudig dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Mark. 12:31, Jak 2:8). Vir my is dit heel duidelik dat as jy nie jouself waarlik kan lief hê nie, jy ook nie jou naaste waarlik sal kan liefhê nie? Wat nou daarvan as jy ander meer liefhet as jouself? Klink vir my heel moontlik, maar raak die ander persoon dan nie dalk meer die rede vir jou bestaan in stede van jouself en ware liefde nie? Dan kan jy aan die anderkant jouself ook meer lief hê as jou naaste. Dit skreeu vir my teen ware liefde! Die vraag kan gevra word: Hoe lief is jy werklik, indien jy altyd jou eie belange voor die van ’n ander stel? Miskien ’n bietjie oordrewe, maar Paula van Sewende Laan, is beslis ’n voorbeeld van ’n persoon wat haar eie belange altyd eerste stel.

Goed, nou waar begin ’n mens as jy jouself nie waarlik lief het nie? Ek dink ’n ondersoek na die oorsprong van liefde sal vir ons die antwoord gee. Liefde moet tog van iewers af kom! Hoekom voel mense soms dat daar ’n leemte binne hulle is? Kan ware liefde dalk die leemte vul? Indien jy dit nie alreeds weet nie, glo ek dat die volgende vir jou ’n wonderlike ontdekking gaan wees. Die volgende 2 versies gee eintlik die geheim van ’n liefdeslewe hier in die sigbare en ook daarna in die onsigbare. 1 Joh. 4:7 sê: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God ”. 1 Joh. 4:16 sê dit net op ’n ander manier: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom”. Meer duidelik kan ek dit nie stel nie. God is liefde en die liefde is uit God.

Deel met ander: