Wie is jy?

Ek wonder hoe goed ken jy jouself. Om jouself waarlik te kan liefhê moet jy tog jouself ken. Indien jy nie jouself ken nie, wil jy mos jouself leer ken, of hoe? Ons is elkeen uniek en daarom glo ek beslis nie daarin om mense as sekere tipes persoonlikhede of sterretekens en dies meer te klassifiseer nie. Dink ’n bietjie terug, is jy werklik nog dieselfde mens as 10 jaar terug? Hoe realisties kan die klassifikasies dan wees? Ongelukkig hoor party mense dat hulle dié tipe of daai tipe is en glo so vas daarin dat hulle sommer daardie tipe mens raak. Indien ek dalk nou met jou gepraat het, wil ek graag vir jou sê dat ek dink dit is pure snert! Jy is nie vasgekeer in ’n sekere tipe persoonlikheid nie en jy kan, met genade van God, beslis raak soos jy wil wees. Jy moet net lief raak vir jou self.

Ek noem hieronder ’n paar eienskappe van mense, maar dit is slegs ’n raamwerk om jou ’n idee te kan gee van wie jy op hierdie oomblik is en oor hoekom jy jouself nog nie waarlik lief het nie.

Al gehoor dat mense half sarkasties sê, daai ou is verskriklik lief vir homself! Ironies genoeg, is so ’n persoon dalk juis nie baie lief vir homself nie. Dink net daaraan, hoekom moet jy die heeltyd jou eie beul blaas? Dalk is jy so ongelukkig binne jouself dat jy al die aandag op jouself wil hê om belangrik te kan voel. Is jy werklik lief vir jouself?

Mens, maar moet nie vergeet nie dat party mense net lewendig van geaardheid is nie. Wie geniet nou nie ’n mens met ’n lewendige geaardheid nie. Sulke mense is dikwels die lewe van ’n byeenkoms. Onderskei derhalwe mooi voor jy ’n, die ou is verskriklik lief vir homself, etiket aan iemand heg. Weet jy as jy regtig lief raak vir jouself gaan jy nie sommer ’n etiket op iemand anders plaas nie. Dit sal nie ’n besluit wees nie, dit sal sommer net so wees.

Deel met ander: