Mense en liefde

Wie is Jy?

Ek wonder hoe goed ken jy jouself. Om jouself waarlik te kan liefhê moet jy tog jouself ken. Indien jy nie jouself ken nie, wil jy mos jouself leer ken, of hoe? Ons is elkeen uniek en daarom glo ek beslis nie daarin om mense as sekere tipes persoonlikhede of sterretekens en dies meer te klassifiseer nie. Dink ‘n bietjie terug, is jy werklik nog dieselfde mens as 10 jaar terug? Hoe realisties kan die klassifikasies dan wees? Jy is nie vasgekeer in ‘n sekere tipe persoonlikheid nie en jy kan, met genade van God, beslis verander na die mens wat God vir jou bestem het om te wees. Jy moet net lief raak vir jou self.

Ek noem hieronder ‘n paar eienskappe van mense, maar dit is slegs ‘n raamwerk om jou ‘n idee te kan gee van wie jy op hierdie oomblik is en oor hoekom jy jouself nog nie waarlik lief het nie.

Al gehoor dat mense half sarkasties sê: “Daai ou is verskriklik lief vir homself!” Ironies genoeg is so ‘n persoon dalk juis nie baie lief vir homself nie. Dink net daaraan, hoekom moet jy die heeltyd jou eie beul blaas? Dalk is jy so ongelukkig binne jouself dat jy al die aandag op jouself wil hê om belangrik te kan voel. Is jy werklik lief vir jouself?

Mens, maar moet nie vergeet nie dat party mense net lewendig van geaardheid is nie. Wie geniet nou nie ‘n mens met ‘n lewendige geaardheid nie. Sulke mense is dikwels die lewe van ‘n byeenkoms. Onderskei derhalwe mooi voor jy ‘n “die ou is verskriklik lief vir homself etiket” aan iemand heg. Weet jy as jy regtig lief raak vir jouself gaan jy nie sommer ‘n etiket op iemand anders plaas nie. Dit sal nie ‘n besluit wees nie, dit sal sommer net so wees.

Dan kry jy mense wat altyd lyk of hulle agter ‘n tafel wil wegkruip as hulle jou sien. Jy is nie dalk een van die tipe mense wat sukkel om ‘n ander in die oë te kyk nie? Dalk te bang om iets te sê. Dalk te bang om voluit te lewe! Sou jy sê dat jy jouself waarlik lief het?

Daar is die stil, ernstige mense. Hulle is so intens gefokus om doelwitte te bereik dat hulle nie eers bewus is van ander mense se bestaan nie. Is jy dalk só doelgerig dat jy baie van die mooi dinge in die lewe soos liefde vir jouself en vir ander heeltemal miskyk? Dink jy dalk dat deur jou doel te bereik gaan jy die toppunt van geluk bereik? Hoe permanent, dink jy sal die geluk wees? Vergelyk dit met hoe jou opgewondenheid oor ‘n nuwe motor met die verloop van tyd vervaag. Wat dryf jou – is dit status, rykdom of ware liefde?

Wie ken nie ‘n kwaai mens nie? Hulle kom partykeer so skielik op jou pad en raas oor iets wat totaal en al onbenullig is. Daar is niks daarmee verkeerd om kwaad te word nie, solank dit met goeie rede is. Soms is dit regtig nodig vir jou en ander se beswil. Indien jy egter heeldag en aldag oor ander kla en werklik onnodig kwaai is, kan ek nie help nie om te wonder, hoekom dan so? Kla jy nie dalk ook heeldag oor jou eie doen en late nie en raak jy nie dan nog boonop sommer kwaad vir jouself nie? Dit is nie altyd so maklik om so iets in jouself te identifiseer nie, maar met ‘n bietjie nabetragting oor ‘n paar dae kom jy dit dalk tog agter. Die ooglopende vraag is: Dink jy dit is goed om jouself aanmekaar af te kraak? Dink jy dat jy jouself waarlik lief het? Indien wel, hoekom dan die heeldag se gebaklei met jouself en ander mense?

‘n Laaste groep mense waaraan ek kan dink, is seker die moeilikste om te identifiseer. Dit is die ou wat altyd alles reg doen. Die persoon is altyd op tyd, reg aangetrek en sê altyd die regte goed vir die regte mense. Moet jy altyd in beheer wees, moet jy altyd alles perfek doen en moet jy altyd goed lyk? Dink jy dat dit regtig is hoe jy is, of is dit dalk net hoe jy graag wil hê ander mense jou moet sien? Indien jy jouself waarlik lief het, hoekom is dit dan nodig dat alles altyd perfek voor ander se oë moet wees?

Kan jy jouself in die voorbeelde hierbo identifiseer? Is jy dalk ‘n kombinasie van verskillende tipes, of is jy sommer net heel anders? Dit is beslis moontlik om anders te wees, elkeen van ons is mos uniek. Hoe jy jouself ook al identifiseer, glo ek dat elkeen van ons daarna wil streef om werklik so lief vir onsself te wees dat ons nie ander persone nodig het om gelukkig te wees nie. Ek waag dit om te sê, hoe meer jou ware liefde vir jouself, hoe minder sal jou onsekerheid word met die neem van besluite. Jy sal net al hoe meer weet wat jy wil hê. Dink jy dit is moontlik?

Deel met ander
Ware Liefde Logo

© Ware Liefde 2024 Alle regte voorbehou.